Ná 45 en ‘n half jaar tree JC Brummer, hoof van die Laerskool Voluit in Merriespruit, af.

Brummer het in 2007 by die destydse Laerskool Merriespruit begin skoolgee tot die samesmelting van die skool met die ander Afrikaanse laerskool in die dorp, die Virginia Volkskool. Hy is toe aangestel as die hoof van die nuwe skool genaamd die Laerskool Voluit.

Brummer sê sy jare by Voluit is deur spesiale oomblikke gekenmerk.

“Ons kinders presteer op alle vlakke, maar die belangrikste is hul houding en gedrag. Ons skool is

bekend vir sy leerlinge se goeie maniere en gedrag. Waar ons ooral kom word ons leerlinge geprys, en dit kom neer op die waardes wat ons die kinders leer. Hierdie is iets wat altyd by my sal bly,” sê hy.

Brummer sê die samesmelting met die Virginia Volkies in 2018 het vlot verloop.

“Ons het een skool met een karakter en tradisies begin.”

Maar hy verlaat die onderwys en sy jare by Voluit met ‘n swaar hart. Die afsterwe van Una van den Berg, die onderhoof van die Laerskool Voluit, was ‘n slag. Hy het saam met Van den Berg by Voluit begin, sy as onderhoof en hy as hoof.

“Alles was in plek dat sy as skoolhoof sou oorneem.

“My weggaan by Voluit is vir tyd en wyl op ys gesit todat ons ‘n nuwe hoof kan identifiseer. Met die samesmelting van die twee laerskole was dit belangrik om die etos van Afrikaans te behou.”

Hy sê skoolhou was sy lewe, maar nou sal hy kan uitsien na stokperdjies soos rolbal en visvang.

Brummer is getroud met Alta, ‘n departementshoof by die Lakeview Laerskool in Virginia.

Hy woon sedert 1985 in Virginia en die gemeenskap lê hom na aan die hart.

“Ek het diepe waardering vir die ondersteuning,” sê hy.

You need to be Logged In to leave a comment.