Volharding goud werd

Tené Martin is gediagnoseer met outisme op sesjarige ouderdom.

Tené Martin op haar perd Slick Deputy (Sady). Sy het op die nasionale byeenkoms in Kyalami van 2 tot 7 Oktober twee goue medaljes verower. Foto: Verskaf

Credit: SYSTEM

Tené Martin is gediagnoseer met outisme op sesjarige ouderdom.

“Ek sal nooit die dokter se woorde vergeet nie. Hy het gesê dat ek haar vir terapie moes laat gaan, soveel en so gereeld as moontlik. Dis hoe ons uiteindelik by die perde beland het,” sê Thelma Martin, haar ma.

Die perdry-klasse – ook bekend as Equine-therapy – het Tené se hele persoonlikheid verander.

Waar sy altyd ’n skaam, teruggetrokke meisie was, borrel sy nou omtrent oor van selfvertroue.

Thelma sê die pad wat ’n mens stap is nie altyd maklik nie.

“Wanneer Tené sukkel met iets het sy altyd iemand wat wil help, maar wanneer dit by opregte vriende kom wat haar nooi om saam te speel, is daar maar min wat haar regtig aanvaar soos sy is”.

By outistiese kinders of in Tené se geval, kinders met Aspergersindroom, ’n vorm van outisme, is hul grootste probleem juis hul vermoë om met ander kinders te sosialiseer.

“Baie kinders verstaan hulle nie en spot of terg hulle. Gelukkig het die meeste kinders wat saam Tené in die klas is haar aanvaar soos sy is.

“Dit beteken nie sy word nie genooi na partytjies nie. Sy is soms alleen. Haar vermoë om sosiaal met ander mense te verkeer het egter baie verbeter vandat sy perdry.”

Sodra jy deel van ’n span is, leer jy om met ander mense te kommunikeer en leer jy wat sosiaal aanvaarbaar is en wat om nie te sê nie.

Tené het geleer dat ’n mens nie sommer alles sê wat jy dink nie.

Sy het ook geleer dat sy haarself kan wees wanneer sy by haar perd is en sy gesels land en sand met haar perd, Sady.

Thelma sê die grootste les wat Tené by die perdry-lesse geleer het, is dat jy hard moet werk om te bereik wat jy wil bereik.

“Jy werk nog steeds met ’n dier, wat soms onvoorspelbaar is en jy moet paraat wees vir enige iets wat kan gebeur. By een kompetisie het haar perd geskrik en Tené het afgeval. Sy was gediskwalifiseer.

“Dan moet ’n mens maar weer jou moed bymekaar skraap en harder werk vir die volgende kompetisie.

“Dit leer jou deursettingsvermoë en om aan te hou probeer totdat jy iets regkry.

“Wanneer jy dit dan regkry of ’n medalje wen, gee dit jou selfvertroue ’n groot hupstoot. Dit leer jou dat jy enige probleem in die lewe op dieselfde manier kan aanpak en oorwin.”

Tené het vanjaar die vyfde jaar agtereenvolgens aan die Suid-Afrikaanse Ruiterkuns­federasie (Sanesa) se kampioenskappe deelgeneem.

Sanesa is ’n organisasie wat ’n voorstaander is vir die ontwikkelling van perdry vir kinders in skole in Suid-Afrika.

Thelma sê Sanesa het ’n groot rol in Tené se ontwikkelling in die sport gespeel.

“Daarvoor sal ons altyd dankbaar wees. Sy het nie altyd so sterk kompetisie nie, maar sy probeer nogtans haar bes en kry goeie terugvoer van die bekwame beoordelaars.”

Tené het op die nasionale byeenkoms in Kyalami van 2 tot 7 Oktober twee goue medaljes verower.

“Ons is bitter trots op haar”.

Sy word afgerig deur Belinda Basson van BRS Equestrian Centre.

Dit leer jou deursettingsvermoë en om aan te hou probeer totdat jy iets regkry.

– Thelma Martin

Categorised:

You need to be Logged In to leave a comment.