Ds. Lood Oliver, NG kerk Welkom-Noord:
Die NG Kerk is ’n krimpende kerk. Van die eens groot getalle wat op ’n Sondagoggend die kerkgebou volgesit het, is daar net ’n handjievol oor.
Ja, daar is geldige redes daarvoor. In Welkom het ’n hele paar myne toegemaak en daar gaan nog ’n paar toemaak. Mense verloor hulle werk en trek weg. Jongmense gaan werk in die buiteland of in die stede.
By die Vrystaat Sinode se Streekkonferensie in Kroonstad (7 November 2022) gee een hooggeleerde vir ons toe die eintlike rede hoekom die kerk leegloop. Hy vertel dit is omdat ons nie meer by die Woord hou nie en nou selfs gay mense aanvaar in die kerk. Hulle kan selfs in die kerk aan mekaar “verbind” word deur ’n burgerlike verbintenis. Dit is hoekom.
Ek wou reageer daarop, maar het nie. Daar was te min tyd.
Jy kan dalk sê dit is slegte gedragspatrone wat jy aangeleer het of dit loop in die gene – die DNA. Hoe ookal, nie een van ons is perfek nie. Nogtans is die Here lief vir jou. Hy gee om vir jou en Hy aanvaar jou. Ander mense in die kerk aanvaar jou ook soos jy is – maar blykbaar nie as jy gay is nie.
Dan is jy op een af ander manier nie aanvaarbaar nie en as iemand jou aanvaar, is jy sommer die rede hoekom die kerk leegloop. Mense het baie verskillende menings oor gay wees, en selfs binne die sielkunde as vakgebied is daar tot nou toe nog nie ooreenstemming oor hoekom sekere mense so is nie.
Ek glo ’n mens mag nie iemand veroordeel omdat hy of sy anders is as jy en kies om anders te leef nie. Die kerk behoort gelowiges wat anders is, te aanvaar as medegelowiges.
Aanvaar is nie dieselfde as goedkeur nie. Aanvaar beteken ek gee jou leefruimte; ek gun jou om dinge op jou manier te doen en ek gaan nie my manier van dinge doen afdwing op jou nie. Per implikasie verwag ek dan dieselfde van jou. Ons sing gereeld ’n mooi liedjie in die kerk: “Ek aanvaar jou met die liefde van ons Heer, daar is vrede waar sy liefde ons regeer. Mag dan hul wat sien dat jy die Here dien, ook begeer om van sy liefde meer te leer.”
Ons lees en interpreteer die Bybel soos dit ons pas. Elkeen van ons het sy eie “bril” op waarvolgens hy lees en interpreteer – ek ook. Maar ek wonder of daar nie dalk nog ’n rede is hoekom die kerk leegloop nie.
Dalk omdat ons sekere mense nie aanvaar nie as gevolg van hul lewensoriëntasie of die dinge in hul lewe wat anders is as in ons lewe. Dalk is ons liefdeloosheid die rede hoekom mense nie meer wil deel wees van die kerk nie. Dit help nie ons sing of /sê iets, maar is nie bereid om dit uit te leef nie.