Die 30ste driejaarlikse kongres van die Wêreldbond van Plattelandse Vroue was vanjaar deur die Vroue Instituut van Pahang, Maleisië, by die JW Marriott Hotel in Putrajaya,  Kuala Lumpur, gehou. Hier is Koningin Azizah Iskandariah van Maleisië (links) en Vanda Gagiano.Foto: Verskaf


Welkomse filantroop Vanda Gagiano is op die 30ste driejaarlikse Wêreldbond van Plattelandse Vroue- (WBPV) kongres tot voorsitter en sekretaresse vir die reëlingskomitee van die volgende kongres, wat in 2026 in Kanada gaan plaasvind, verkies.

Gagiano het ook ’n eerbewys ontvang vir haar bydrae tot die 2023-kongres, wat vanjaar van 17 tot 25 Mei in Maleisië plaasgevind het. Dit is deur 460 vroue van 90 lande bygewoon.

Die WBPV se driejaarlikse wêreld­konferensie is vanjaar deur die Vroue Instituut van Pahang, Maleisië, by die JW Marriott Hotel in Putrajaya, Kuala Lumpur aangebied. Die koningin van Maleisië, Azizah Iskandariah, was die gasheer.

“Dit was ’n ongelooflike ervaring. Maleisië is ’n fenomenale land. Die mense is beskeie, nederig en eg. Tydens ons verblyf in Kuala Lampur het die koningin die kongresgangers na ’n uitstekende ete en vermaak by die pragtige en stylvolle paleis genooi,” sê Gagiano.

“Koningin Azizah Iskandariah is ’n voorstander van die bevordering van die regte van die landelike vrou. Die doel van die wêreldbond is om vroue in alle sfere van die lewe te bemagtig en ’n stem te gee,” sê Gagiano.

Dié bond het nege miljoen lede wat 110 lande verteenwoordig. Daar is 15 vroue op die wêreldbond se raad, waarvan twee Suid-Afrikaners is – Gagiano en wêreldbondpresident Magdie de Kock van Heidelberg.

Gagiano sê haar avontuur van 12 dae in Maleisië is voorafgegaan deur ’n vier-nag-stop in Singapoer.

“Hierdie was opsigself ’n fantastiese ervaring, maar my tyd in Maleisië daarna was ongelooflik. Dít was asemrowend.”

Vanjaar se konferensie het ten doel gehad om ’n netwerk en samewerking tussen vroue, plaaslik, in Maleisië en in die buiteland, op te bou.

Gestig in 1933 is die bond die grootste internasionale organisasie vir landelike en stedelike vroue. Die hoofkwartiere is in Londen.

Gagiano is sedert 1989 by verskeie takke van die plaaslike Vroue Landbou-unie (VLU) in Welkom betrokke, en daardeur het sy ook die VLU in die Vrystaat en op nasionale vlak in verskillende ampte verteenwoordig.

“Deur my betrokkenheid by die Vrystaat Vroue Landbou-unie (VVLU) is ek oor die jare wonderlike geleenthede aangebied. Ek was in verskeie lande en het die VVLU en Suid Afrika in Indië, England, Rusland, België en Australië, verteenwoordig.

Gagiano is ’n Welkomiet in murg en been en beywer haar vir die opheffing van die landelike vrou en om die lewensgehalte van vroue te verbeter en te verbreed.

Sy het tydens haar provinsiale voorsitterskap skilderkuns, skryfkuns en fotografie ingebring om die provinsiale VLU-kompetisies op dieselfde vlak as die nasionale kompetisies te bring.

You need to be Logged In to leave a comment.