’n Bekende Goudvelder en gewese werknemer van Vista, Augnischa Van Rooyen (60), is ná ’n jarelange siekte Maandag in die Mediclinic Welkom se hoësorgeenheid aan ’n hartaanval oorlede.
Augnischa het in 1981 by die koerant begin werk, en met haar aftrede in 2018 was sy ’n senior verkoopsbestuurder.
Sy was baie geliefd in die Goudveld en veral onder haar kollegas.
In haar jare by Vista was sy by verskeie gemeenskapsprojekte betrokke. Van haar groter projekte was: die Odensia-aandreeks, Vista-vrouenagwedloop, VistaMiss Goldfields, Vistase gholfdae en haar betrokkenheid as ’n Spontaan-beoordelaar.
Tydens die destydse tornado en ook die Merriespruit-ramp in Welkom was sy deel vanVistase uitreikspan wat geld vir die slagoffers ingesamel het.
Vista het onder haar leiding verskeie eerbewyse ontvang en tydens haar diens by Vista het sy ook eerbewyse ontvang.
Destyds het Augnischa gesê sy geniet dit om met die kliënte en lesers op alle vlakke van die samelewing te werk. Sy het gesê haar werk bied aan haar die geleentheid om op die hoogte van markverwante sake en die lief en leed van die gemeenskap te bly.
Augnischa het in Oktober 2017 met Rico van Rooyen getrou. Hy sê sy vrou sal onthou word vir haar omgee-hart en haar liefde vir haar medemens.
“Sy het nooit die sleg raakgesien, net die goedheid van mense.”
Hy sê Augnischa was lief vir kosmaak en kampeer.
“Sy was mal oor die buitelug en groot kampvure,” sê hy.
“Augnischa het gesê sy is my HAT, sy kon enige woord, Afrikaans of Engels, netso vir my uitspel,” sê hy.
Augnischa was ’n gesinsmens en het vir haar familie geleef.
“Sy het daagliks tot en met haar dood ’n WhatsApp video-oproep met die kleinkinders gehad,” sê Van Rooyen.
Elrina de Beer, Vista se advertensiespan-bestuurder, sê dit was ’n voorreg om 20 jaar lank saam met Augnischa te kon werk.
“Sy was ’n spesiale vriendin vir 28 jaar, en vir 20 jaar was sy ’n geëerde en lojale kollega.”
Sy sê Augnischa het baie talente gehad en was hardwerkend. Sy was geseën met ’n flink verstand en het ’n onmisbare rol by Vista gespeel.
“Jy het oor die laaste paar jare baie seer en siekte in jou gehad, en jy het hard baklei tot aan die einde. Ek sal altyd met aangename herinneringe aan jou dink,” sê sy.
Jeannine van Zyl, hoofbestuurder van Sentraal24 in Bloemfontein, sê sy kan nie glo dat sy hulde moet bring aan Augnischa nadat hulle nog Vrydag op WhatsApp gesels het nie.
Sy sê as kollega by Media24 het sy Augnischa leer ken as iemand wat geleenthede in die mark kon raaksien. Sy beskryf haar as ’n staatmaker met deursettingsvermoë, wat bewys is deurdat sy ’n graad (BTech in bemarking) verwerf het terwyl sy heeltyds gewerk het.
“Sy was ’n gesinsmens en ’n trotse ma en ouma. Haar liefde vir haar man en sy deurlopende steun aan haar getuig van hul sterk band,” sê van Zyl.
Sy word deur haar man, drie dogters – Anel White, Erika Botha, René Steyn – en stiefseun, Henco van Rooyen, asook kleinkinders Alec, Ethan, Cara en Ruvahn, oorleef.
Haar begrafnisdiens is Saterdag om 11:00 in die NG kerk Bedia, Welkom.