’n Onderwyser van Odendaalsrus het nie net ’n engelhart nie, maar ook ’n engelstem.
Lida Venter het die musiekwêreld in rep en roer met haar nuutste enkelsnit, “ ’n Onderwyser se hart”.
Sy skryf haar eie liedjies, en soms neem sy dit in haar tuisstudio op.
“Ek het myself geleer om die studio in te rig – en om te sing en kitaar te speel.
“Ek het begin sing toe ek klein was, maar sommer net in die skoolkoor en vir lekkerte om almal om my te irriteer,” sê sy met ’n laggie.
Lida sê haar genre wissel tussen Afrikaans (akoesties) en pop-country.
“Sang druk soveel emosies uit wat woorde nie kan beskryf nie,” meen sy.
“Ek sien dit ook as deel van ’n gesondwording, en ek deel gereeld my getuienis by kerke en vrouekonferensies. Hier kombineer ek sang met my storie en getuienis van God se goedheid die afgelope jare in my lewe.”
Haar lewe en menswees het drie jaar gelede drasties verander toe sy by die dood omgedraai het. Lida, haar stiefpa, Sakkie Peters, en haar ma, Monica Peters, was in ’n gru-ongeluk betrokke. Sakkie is op slag dood.
Lida is in die waakeenheid opgeneem en was langer as ’n maand in die hospitaal. Daarop het maande se rehabilitasie gevolg.
“Dit is deel van my getuienis wat ek altyd deel,” sê sy.
Oor haar liedjie sê Lida die onderwys en kinders is haar passie.
“Ons onderwysers kyk baie dieper en verder as die pleister op ’n kind se hart of die trane van blydskap of hartseer wat oor hul wange rol. Ons sien sonder om te kyk en hoor sonder om te luister.
“Ons verrig ’n belangrike taak – om leiers van môre te skep. Ons optrede kan ’n kind maak of breek. Soms is ons ’n kind se enigste rolmodel,” sê Lida.
Dit was toe sy op een wintersoggend buite tussen die kinders gesit het dat sy die inspirasie vir “ ’n Onderwyser se Hart” gekry het.
“Dit was terwyl hulle so om my gespeel het dat die woorde van die liedjie begin vloei het. Ek het my foon gevat en die woorde begin tik, en toe weet ek hierdie is die liedjie.”
Lida is die afgelope vyf jaar ’n onderwyser aan die Laerskool Odensia, en sy sê dit is by dié skool waar sy geleer en gegroei het.
“Dit is hier waar ek besef het wat dit werklik is om ’n onderwyser se hart te hê.
“Ek sê altyd ’n mens moet net wees, wees jouself, volg jou drome en anker jouself in God en in sy Woord,” sê sy.
“Dan sal alles in plek val, al voel alles uit plek.”
- Luister na Lida se liedjie op Netwerk24.com. Klik boaan dié webblad op “Streeksnuus”, kies “Vista” en klik dan op die berig “Vista stel ’n splinternuwe Afrikaanse sangeres aan ons lesers voor”.