Drie verdagtes is in Kutlwanong, Odendaalsrus, op ’n klag van dwelmhandel in hegtenis geneem nadat die gemeenskap inligting verskaf het aan polisielede wat reeds daar was om tydens ’n betoging die orde te handhaaf.
Nog ’n man is later in Welkom in hegtenis geneem.
Kapt. Stephen Thakeng, Vrystaatse polisiewoordvoerder, sê lede van die polisie se eenheid vir openbare orde in Welkom is Donderdag (04/03) na Kutlwanong ontplooi waar mense “oor ’n maatskaplike kwessie” betoog het.
’n Gespanne atmosfeer het by een van die skole in die gebied geheers, maar die skare is ná ’n ruk vreedsaam uiteen.
Inwoners het hierna inligting oor dwelmhandelaars aan die polisie gegee.
Volgens Thakeng het lede van die eenheid vir openbare orde toe die gebied saam met lede van die eenheid vir sigbare polisiëring gepatrolleer en drie vermeende dwelmhandelaars in hegtenis geneem.
’n Man (33) is deursoek en sewe sakkies met nyaope-dwelm en R110 kontant is glo in sy besit gevind.
Die polisie het ook ’n 36-jarige man se huis deursoek en het op 15 sakkies nyaope, ’n sakkie tik en R619 kontant beslag gelê.
’n Man (21) se huis is deurgesoek en daar is glo op drie sakkies nyaope beslag gelê.
Hierna het die polisie hul optrede in Thabong, Welkom, voortgesit, waar ’n 57-jarige man in hegtenis geneem is nadat die polisie op tien Mandrax-pille, 175 stoppe dagga, ’n literhouer met dagga, twee swartsakke met los dagga en R500 kontant afgekom het.
Thakeng sê die vier mans is in hegtenis geneem en sal op aanklag van dwelmbesit en handel in dwelms verskyn.
Genl. maj. Lerato Molale, gebiedskommissaris, het inwoners bedank vir die inligting wat hulle aan die polisie verskaf het.