Skote van Mausers en Lee-Metfords het op 27 November by die Oorlogsmuseum van die Boererepublieke geklap om die opening van ‘n replika van ‘n blokhuis uit die Anglo-Boereoorlog te vier.
Die salvo’s is afgevuur deur twee nabootsers van Britse soldate met Lee-Metford-gewere en twee Boere-nabootsers met Mausers wat opgeklink het as deel van die openingsgeselligheid van die Oorlogsmuseum se blokhuis-museum op die terrein.

Die sandsteen-replika, ‘n akkurate nabootsing van die agt-hoekige blokhuis by Tierpoort sowat 50km suid van Bloemfontein, is die nuutste toevoeging by die Oorlogsmuseum wat die geskiedenis van die oorlog getrou en nuut uitbeeld.
Die blokhuis wat uitgebeeld word is een van twee wat gebou is om die spoorlyn oor die rivier wat in die Tierpoortdam vloei, teen aanvalle van die Boerekommando’s te beskerm.
Die Oranjerivier se agthoekige blokhuise is in Februarie 1901 deur die Britse Royal Engineers by Norvalspot, Bethulie, Riversford (nou Tierpoort genoem) en by die brug oor die Rietrivier opgerig.
Vandag is net twee van die oorspronklike agt Vrystaatse blokhuise oor − die een by Tierpoort en die een by Norvalspont.
Die sandsteenblokhuis by Tierpoort is ‘n paar jaar gelede gerestoureer, maar weens blootstelling aan wind en weer het die blokhuis gou weer verweer en het die vloere weggevrot nadat die dak beskadig is.
In November 2024 het Tokkie Pretorius, direkteur van die Oorlogsmuseum, die blokhuis by Tierpoort besoek en besluit dat ‘n replika hiervan op die terrein van die museum in Bloemfontein gebou moet word. Private borge het gehelp om hierdie droom van Pretorius waar te maak.

Adv. Colin Steyn, agterkleinkind van die oudpres. M.T. Steyn van die Vrystaatse Republiek, wat vandag nog op die plaas Onze Rust naby Tierpoort woon, sê die Britse troepe wat die blokhuise moes beman, moes ondraaglike toestande soos hitte, koue, wind, stof en Vrystaatse donderstorms verduur, op
“eensame eilande in ‘n baie vyandige see”.
Binne die blokhuis is ‘n skaalmodel van die terrein waarop die blokhuis staan, asook die ander strukture soos die tweede blokhuis (wat nie meer bestaan nie) en die staaltreinbrug oor die rivier te sien.
Hennie van Zyl, argitektekenaar en jare gelede die hoof van die kantoor van stads- en streeksbeplanning in die Vrystaat, het die planne vir die blokhuis opgetrek en ook die skaalmodel gebou.
Van Zyl was lid van die Bloemfontein-stadkommando wat met sy sluiting in 2005 sy fonds aan die Oorlogsmuseum geskenk het. Dié fonds is gebruik in die bou van die blokhuis-museum.

Dit is gegrond op navorsing wat wyle dr. Johan Hattingh en prof. André Wessels gedoen het oor die lewe van die soldate by die blokhuise van 1899 tot 1902.
Met die opening van die nuutste uitstalling kan besoekers dié vakansie weer ‘n draai gaan maak by die Oorlogsmuseum en hierdie en ander nuwe uitstallings besigtig.Dit sluit in ‘n uitstalling oor ander lande, buiten Brittanje, wat by die Anglo-Boereoorlog betrokke was.
Die museum is weeksdae van 08:00 tot 16:00 en Saterdae van 10:00 tot 17:00 oop. Sondae se ure is 11:00 tot 17:00; en dié vir openbare vakansiedae van 09:00 tot 17:00.
Rig navrae of bespreek begeleide toere by 051 447 3447.



You must be logged in to post a comment.