’n Welkomiet wat diep spore in die gemeenskap gelaat het, verlaat haar tuisdorp ná 52 jaar.
Hannetjie Strydom (81) is ’n marathon-legende. Nie net het sy tien voltooide Comrades-wedlope (wat haar ’n groennommer verseker het) om mee te spog nie, maar sy is ook die eerste vroue-atleet van Welkom en die tweede een in die Vrystaat om dié eer te kry. Sy het haar geraamde Comrades-medaljes en groennommer aan die Goudveld Multisport-hardloopklub geskenk.
“Ek glo my fiksheid het tot my goeie gesondheid op my ouderdom bygedra,” sê Strydom.
Sy het in 1976 begin hardloop en haar eerste marathon was ’n 16 km lange wedloop tussen Odendaalsrus en Welkom.
“Dit was bekend as die ‘Kindergarten’-wedloop,” sê sy.
Strydom is trots op haar groen Comrades nommer.
“Sodra jou hardloop nommer groen word, kan dit nooit weer deur ’n ander hardloper gebruik word nie,” sê sy met trots.
Sy het in 1982 by die Welkom Harriers-klub aangesluit, wat toe later Goudveld Multisport geword het.
In 2007 is Strydom beseer toe ’n motor haar tydens ’n wedloop getref het. Nadat sy herstel het, het sy begin met 10 km lange snelstap.
Strydom het al oral in Suid-Afrika en ook Namibië staptoere en wandelroetes voltooi.
Sy het in hierdie tydperk ’n vyftig Park Run banier ontvang.
Tussen die stap en draf deur het Swanepoel ook aan spansportsoorte soos sagtebal en netbal deel geneem, maar woorde is haar speelgoed en onder haar vriende is sy bekend as die taalpolisie.
Strydom beskik ook oor ’n goeie algemene kennis.
Sy sing graag en is haar hele lewe lank in die Welkom Wes-koor, en was ook deel van die Sibel van Rooyen-koor.
“Ek hou van klassieke musiek. Ek hou van die lewe, ek hou van eet en ek hou van my wonderlike vriende wat my jonk hou.”
Strydom gaan nou in Australië saam met haar dogter, Janise, woon.
“Ek gaan Welkom mis. Ek woon nou amper 60 jaar hier. Toe ek in Welkom aangekom het was dit vaal, net ’n horison en 360 ° se uitsig van niks nie.
“Dit het my drie maande gevat om te leer om na die mense te kyk, hulle raak te sien. Toe begin ek my avontuur in Welkom geniet.”