Dit is versoek dat die optrede en gedrag van die Matjhabeng-burgemeester, Thanduxolo (David) Khalipha, dringend ondersoek moet word.
Dié versoek is deur die VF Plus aan die Vrystaatse LUR vir samewerkende regering en tradisionele sake (Cogta), Saki Mokoena, gerig.
“Khalipha is in November verlede jaar skuldig bevind op aanklagte van aanranding en crimen injuria. Hy het ook in Oktober 2023 ʼn hofbevel verontagsaam rakende die onwettige afsny van ʼn inwoner se dienste. Verder was Khalipha vir maande afwesig as burgemeester tydens sy verhoor”
Armand Cloete, VF Plus-LPW: Vrystaat
Hy sê ten spyte van Khalipha se skuldigbevinding, het die ANC besluit om hom in sy pos as burgemeester te behou.
“ ‘n Ad hoc-komitee van die Matjhabeng-raad ondersoek bloot net sy verlof en of hy sy salarisvoordele vir daardie tydperk moet behou. Daar is egter geen ondersoek na sy gedrag en of hy onder meer die gedragskode vir raadslede verbreek het nie,” sê Cloete.
Artikel 2 van dié gedragskode bepaal onder meer dat raadslede altyd in die beste belang van die munisipaliteit moet optree. Artikel 16.5 van die gedragskode plaas ook ‘n verantwoordelikheid op die LUR om ‘n ondersoek na moontlike oortredings van die gedragskode te doen.
Cloete maan dat ANC-politici nie kan aanhou om wette te breek en dan die beskerming van hul party te geniet, terwyl daar genoeg bewyse vir ‘n ondersoek bestaan nie. “Die VF Plus glo ‘n ondersoek na die burgemeester se gedrag is nie net regverdigbaar nie, maar noodsaaklik.”