Alle tweewiele lei Saterdag (03/09) na die Phakisa-renbaan waar ongeveer 150 veldfietsren-deelnemers van Suid-Afrika, Botswana, Namibië, Zambië, Uganda en Zimbabwe mekaar in die Suid-Afrikaanse nasionale kampioenskap die stryd gaan aansê.
Die kompetisie is taai, en met net ’n klein punteverskil tussen die voorste jaers, kan ’n hewige stryd verwag word om punte te verbeter met die doel om die einde van die jaar as die Suid-Afrikaanse kampioen gekroon te word.
Toeskouers moenie die MX1-resies misloop nie.
Triston Purden, wat pas van Engeland teruggekeer het waar hy aan die Britse kampioenskap deelgeneem het, sal ook in aksie wees.
Sy teenstaander, Cameron Durrow, is ’n taai jaer wat beslis sy stempel op Phakisa gaan wil afdruk.
Met volle televisie-dekking van die byeenkoms, wat later op verskeie sportkanale uitgesaai word, is dit ’n veer in die hoed van die klub om so ’n groot byeenkoms na die Goudveld te bring.
David Tilley, voorsitter van die klub, sê die baan is in ’n uitstekende toestand met skoon ablusiegeriewe, lekker kos deur die Rotariërs, verskeie uitstallers en regstreekse kommentaar.
“Ons doelwit is om die klub te bemark en ons plaaslike sakelui, gastehuise en restaurante ’n ekonomiese inspuiting te gee.
“Phakisa se baan is verlede jaar as die as tweede beste baan in die land ingestem deur ryers. Kom ondersteun die sport en geniet ’n dag saam met familie en kinders.”
Oefenrondes begin om 08:00 en die wedrenne om 10:00. Toegang kos R60 vir volwassenes, en kinders 12 jaar en jonger kry gratis toegang.
- Bel Tilley by 083-273-9152 of Lourius Erasmus by 079-495-7223.Hou ook plaaslike jaer Casey Tilley dop wat in die 65cc-klas deelneem.
Sy ouboet, Blade, wat die 65cc- Suid-Afrikaanse kampioen is en vanjaar op ’n 85cc-motorfiets ry, sal weens ’n gebreekte gewrig nie deelneem nie. Die sibbe het twee weke gelede Suid-Afrika in Uganda verteenwoordig. – Chrystelle Erasmus