VERONICA VERTEL | Bou brûe waar jy gaan, maar jy hoef nie te trou nie

Ek het my boeglam geskrik, maar sy skaterlag het my gerusgestel. Die afvaardiging wat Amerika toe is om met president Donald Trump te gaan blad skud, het my ver laat […]

Handshakes with customer after contract signature
Foto ter illustrasie. Credit: Getty Images/iStockphoto

Ek het my boeglam geskrik, maar sy skaterlag het my gerusgestel.

Die afvaardiging wat Amerika toe is om met president Donald Trump te gaan blad skud, het my ver laat terugdink aan ’n keer toe ek en twee SAUK kollegas ook afgevaardigdes was; weliswaar nou nie Amerika toe nie, maar Transkei toe.

Dit was in die jaar 1998 toe ek saam met ’n Engelse kollega, Janine Lee, en ’n Xhosa kollega Zukile Ruga, ’n reeks stories in die Transkei gaan maak het.

Ons moes die invloed van stamhoofde op kiesers ondersoek. Ons Xhosa kollega sou help as daar taalkwessies sou ontstaan.

Ons het lank vooraf ’n afspraak gemaak met die hoofman van die Tembu stam, waarvan Nelson Mandela deel was.

Hy was glo ’n baie besige man en ons moes stiptelik aanmeld by sy landelike huis in Qunu.

Tydens ons navorsing is ons meegedeel dat hy ’n ernstige militaris is, en dat ons humor vir hom vreemd sal wees. Hy was vooraf ingelig waaroor die gesprek sou gaan en dat dit opgeneem sou word vir radio.

Hoofman Ndaba Mtirara se huis was helder pienk met ’n skottel op die dak – in teenstelling met groen geverfde modderhuise in die omgewing. Ons het verwag hy sou tradisioneel aangetrek wees en kwaai wees. Maar dis toe die teenstelling!

Hy was gemoedelik, gemaklik geklee in ’n sportiewe t-hemp en blou jannas met tekkies en ’n kep. Sy glimlag was byna verby sy ore. Sommer gou het hy by die huishoudster vir ons koffie bestel.

Dis toe in mooi blommetjies-koppies bedien.

Ons het gou tot die punt gekom oor die verkiesingsake. Maar toe slaan hy sommer self oor na ’n heel ander gesprek! Hy het nie geskroom om te sê hoe kwaad hy vir die ‘ou man’is nie (President Mandela)!

Dié het glo net nog daardie oggend die jonge stamhoof, van in die dertigs, gebel en ‘gesê’…. nie gevrá nie…. dat hy en Graca Machel gaan trou! Hy het verduidelik dis teen tradisionele gebruik van die stam.

Die stamhoof moet geraadpleeg word en toestemming gee! Hy is ook vertel dat Madiba reeds sestig beeste aan die bruid se familie gestuur het. “But you know what…Madiba is Madiba…I cannot discipline him!”

Ons het toe al baie lekker gekuier en geskerts, en sy humorsin was skerp. Ek neem die vrymoedigheid om te vra hoeveel vroue hy het. Mtirara (uitgespreek as Mti-ga-ga) het toe te vertelle hy het reeds twee, en is op die uitkyk vir ’n derde vrou.

En net daar en dan sê hy: “I never thought of having a white woman as a wife. I think Veronica will be the one. I will send my tribe to your people and discuss everything.”

Ek het my boeglam geskrik, maar sy skaterlag het my gerusgestel. Ek sou nou nie soveel beeste werd wees soos Madiba se bruid nie – net twintig sê hy! Tydens die seremonie sou daar diere geslag word en ’n gal oor my kop uitgegooi word en allerhande annerlike grillerige dinge sou gebeur.

En ek sou ’n magdom pligte hê.

“Oe ê ê,” sê ek toe. Dis te veel werk en te ver van die winkels en my mense af. Soek maar verder vir die derde vrou.

building bridges generic
Foto ter illustrasie. Credit: Designed by Freepik / Freepik

Op ’n ernstiger noot – al was ons nou nie in die Ovaal kantoor nie, het ons daardie dag brûe gebou. Dit was die eerste keer dat Mtirara ooit met wit vrouens gepraat het, en natuurlik in sy huis gehad het.

Ons is as goeie vriende uitmekaar en hy was ’n staatmaker bron. Ons was vir jare in kontak tot hy oorlede is.

Categorised:

You need to be Logged In to leave a comment.