Antoinette Schoeman, Riebeeckstad:
Hoe lank moet ons nog versoeke rig, briewe skryf en dreigemente maak voordat die premier van die Vrystaat aandag aan al die probleme in die Goudveld gee?
Vandag sit ons weer sonder water, en ons is nou werklik keelvol vir al die verskonings en mooi beloftes.
Skoon water stroom in die strate af. Miljarde liters water gaan verlore.
Net in een straat in Riebeeckstad is daar vier yslike groot waterlekke wat al vir weke nog geen aandag gekry het nie.
Die straatligte brand 24/7, en dit terwyl ons ’n yslike kragprobleem het.
Geen aandag word aan ons ernstige versoeke gegee nie, terwyl die Matjhabeng-bestuur in weelde leef.
Wat ’n skreiende skande.
Hulle sorg net vir hulself – en dit terwyl talle kinders en behoeftige bejaardes snags honger moet gaan slaap.
Ek en my man gee daagliks vir honger bejaardes en kinders iets om te eet.
Elke nou en dan lui die klokkie by ons hek, dan staan daar iemand op soek na iets om te eet.
Ons is pensioentrekkers wat dit ook nie breed het nie, maar God het daardie saadjie van omgee, nederigheid en liefde vir ons medemens in ons hart geplant, waaroor ons baie bly is.
Ek doen ’n dringende, dog nederige, beroep op die munisipaliteit namens myself en die gemeenskap van die Goudveld.
Munisipale bestuur, julle moet iets doen.
Elke dag wat verbygaan, vererger die probleem.
Die bestuur van die munisipaliteit móét begin omsien na die gemeenskap se behoeftes en ophou om ons hardverdiende geld vir hul eie gerief en gewin te gebruik.
Wie betaal jul salarisse?
Niemand anders as ons bekommerde inwoners nie.
Ons is trots op ons stad en wil nie sien dat alles so verval nie.