- Die polisie soek dringend vir die vermiste Anna Marie de Lange
- Sy is laas Dinsdag 25 Julie gesien
- Anna Marie de Lange is laas by Welriedal-kinder- en jeugsorgsentrum gesien
____________________________________________________________________________
Die gemeenskap word gevra om dringend te help om Anna Marie de Lange (16), ’n leerling aan die Orion-skool in Welkom, op te spoor.
Anna is laaste op Dinsdag 25 Julie by die Welriedal-kinder- en jeugsorgsentrum in Riebeeckstad gesien.
Volgens die opsigter het sy omstreeks 20:15 twee kinders gestuur om Anna te gaan help om haar klere in te pak omdat sy die volgende oggend na die Jimmie Roos Skool sou vertrek.
“Die kinders het teruggekom en aan die opsigter gerapporteer dat Anna Marie nie in haar kamer is nie en haar klere ook nie in die klerekas is nie. Die deure van die klerekas was wawyd oop,” sê kapt. Stephen Thakeng, skakelbeampte van die Lejweleputswa-polisie.
Die opsigter het toe self gaan kyk en kon haar ook nie opspoor nie. Die opsigter het gedink Anna Marie sou terugkom, aangesien dit nie die eerste keer is dat sy verdwyn het nie.
Thakeng sê die kind se ma het vroeër gebel en versoek om haar dogter te besoek, maar sy het nie bevestig hoe laat sy sou kom nie.
“Die opsigter het probeer om die ma te kontak, maar kon haar nie in die hande kry nie. Die ma is uiteindelik opgespoor, maar het nie geweet waar haar kind is nie,” sê Thakeng.
Dit is nie bekend wat Anna Marie aangehad het ten tyde van haar verdwyning nie. Sy is lig van gelaatskleur, medium bouvorm en het lang bruin hare.
’n Saak van ’n vermiste persoon is vir verdere ondersoek geopen.
Enigeen met inligting oor waar Anna Marie De Lange haar bevind, kan sers. Thato Mokoena van die eenheid vir gesinsgeweld, kinderbeskerming en seksuele misdrywe (FCS) by 067-170-6540 bel of die Stop Misdaadnommer by 086-00-10111 skakel.