Vermeende verkragter laat vaar borgtogaansoek

’n Welkomiet (36) wat tereg staan op die verkragting van drie minderjarige seuns jonger as nege het sy borgtogaansoek op die aanbeveling van sy regs­verteenwoordiger laat vaar.


’n Welkomiet (36) wat tereg staan op die verkragting van drie minderjarige seuns jonger as nege het sy borgtogaansoek op die aanbeveling van sy regs­verteenwoordiger laat vaar.

Die verkragtings het oor ’n tydperk plaasgevind en die drie seuns is glo meer as een keer elk deur die beskuldigde verkrag.

Hy bly in hegtenis, en die saak is vir verdere ondersoek na 11 Oktober uitgestel.

Die regsverteenwoordiger, Neil Schoeman, het hom toe ook van die saak onttrek, aangesien hy net aangestel was om die borgtogaansoek te hanteer.

Die beskuldigde het die kinders se ouers deur gemeenskaplike vriende bevriend, en hy het ook saam met die een kind se pa gewerk.

Hy het hulle naweke na sy huis gelok deur beloftes van speletjies en ook visvang­uitstappies.

Hy het vir twee van die kinders selfone gekoop om kontak met hom te hou.

Nie een van die kinders het die gebeurtenisse aangemeld nie, en die storie het aan die lig gekom nadat Interpol gesien het die beskuldigde praat van die kinders van wie hy foto’s het en plaas die foto’s op die donkerweb.

Die donkerweb is ’n ondergrondse deel van die internet waar webtuistes nie met gewone soekenjins opgespoor kan word nie.

Gebruikers van die donkerweb gebruik spesiale sagteware om dikwels onwettige webtuistes te besoek waar hulle nie geidentifiseer kan word nie.

Interpol kon aan die polisie in die Vrystaat inligting gee oor seuns wat seksueel gemolesteer is, en ook die IP-adresse van die man se selfoon en rekenaar verskaf.

Die beskuldigde was tydens die borgtogaansoek op 8 September sigbaar ontsteld en emosioneel.

Hy staan ook tereg op aanklagte van gereedmaking van ’n kind, en die ver­vaardiging, besit en verspreiding van kinder­pornografie.

Categorised:

You need to be Logged In to leave a comment.