‘n Man wat daarvan verdink word dat hy verskeie gastehuise, restaurante en ander sakeondernemings in Kroonstad, Welkom en omgewing met slinkse streke om die bos gelei het, is deur die polisie vasgetrek.
Die 29-jarige Douw van der Merwe is in Virginia in die Vrystaat aangekeer toe die eienaar van ‘n gastehuis in Welkom onraad vermoed het. ‘n Klag is ingedien en Van der Merwe is op Vrydag 11 Julie in hegtenis geneem.
Hy het Maandag vlugtig in die Welkomse landdroshof verskyn en bly in aanhouding. Hy sal na verwagting weer op Maandag 21 Julie in die hof verskyn.
Van der Merwe het na bewering by verskeie gastehuise in Kroonstad, asook in Welkom, tuisgegaan sonder om vir die verblyf te betaal. Verskeie restaurante het ook deurgeloop weens onvoldoende betaling, of geen betaling nie.
‘n Vulstasie in Noordwes is glo ook dringend na hom op soek in verband met ‘n transaksie van meer as R1 000 se aankope wat nie betaal is nie.
Kapt. Lorraine Earle, Vrystaatse polisiewoordvoerder, het bevestig klagte van verskeie vorme van bedrog gepleeg in Kroonstad, en twee in Welkom, is teen Van der Merwe ingedien. Die polisie doen ‘n ondersoek na die klagte.
Van der Merwe is in die Odendaalrus-gevangenis in aanhouding totdat hy Maandag weer in die hof verskyn.

