’n Man wat daarvan aangekla word dat hy ’n polisieman koelbloedig doodgeskiet het, het in die Welkom-landdroshof verskyn.
Die beskuldigde, Frimino David Matola (52), het op Dinsdag 14 November voor die Welkom-landdroshof verskyn. Sy saak is tot 2 November uitgestel.
Dít spruit uit ’n voorval op 6 Desember 2022 toe lede van Sasolburg se eenheid vir openbare-orde-polisiëring, die Bloemfonteinse taktiese reaksie-eenheid en Welkom-speurders inligting oor ’n verdagte wat na bewering in ’n rooftog by ’n vulstasie in Welkom betrokke was, opgevolg het.
Die rooftog het op 24 November 2022 plaasgevind.
Inligting oor die roof het die polisie na Lesitsastraat in Thabong, waar Matola woonagtig is, gelei.
By die adres was daar ’n skietgeveg tussen die polisie en Matola. Die oorlede sers. Disema Steven Mapane (43), wat aan die Sasolburg-polisie verbonde was, is geskiet. Hy is na die hospitaal gehaas waar hy dood verklaar is.
Op 21 September is Matola in Limpopo vir ’n transitorooftog wat in Hoedspruit plaasgevind het, in hegtenis geneem.
Die polisie in Limpopo het die Valke in die Vrystaat in kennis gestel nadat hulle verneem het dat Matola vir die moord op ’n polisiebeampte, gesoek word.
Lede van die Valke se ondersoekspan vir ernstige georganiseerde misdaad gebaseer in Welkom het hom in Limpopo, ná sy hofverskyning in Hoedspruit, in hegtenis geneem.