Die ma van ’n pasgebore babaseuntjie wat by ’n woonstel in Dagbreek, Welkom, gelos is, word deur die polisie gesoek.
Die eenheid vir gesinsgeweld, kinderbeskerming en seksuele misdrywe versoek die gemeenskap om te help om die ma van die baba te vind.
Die baba is Sondag 18 Augustus omstreeks 07:45 voor die woonstelblok gekry.
Volgens berigte het die klaer wat in een van die woonstelle in Dagbreek bly, ’n babaseuntjie kaal op die grond by die hek gevind en die polisie in kennis gestel.
Die baba is in die hospitaal opgeneem vir mediese aandag.
Die ma van die baba is steeds op vrye voet, en ’n saak van poging tot moord is vir verdere ondersoek geregistreer, sê kapt. Stephen Thakeng, polisie skakelbeampte.
Enigiemand met inligting wat sal help om die ma op te spoor, moet asseblief speurs. Sinah Mvundle kontak by 078-095-7328 of die Stop Misdaadnommer 08600-10111 bel.