Die voorgestelde tariefverhogings vir die nuwe geldjaar in Matjhabeng word as verregaande en buitensporig geag.
Verskeie imbizo’s is oor die afgelope twee weke in die wyke van Matjhabeng gehou om die inwoners oor die voorgestelde tariefverhoging in te lig.
“Dit is ’n ongefinansierde begroting. Hoe op aarde wil hulle verhogings hê as ons omtrent nooit water het nie, asook krag? Die minder gegoede inwoners het nie die geld om water, ’n omskakelaar, kragopwekker, wat nog te sê van sonpanele, te koop nie. Nou moet daar ’n basiese heffing van R25 wees. Vir ons klink dit nie baie nie, maar mense wat Sassa kry kan dit eenvoudig nie bekostig nie. Wil hulle die koei melk tot dit vrek? Hierdie begroting is nie haalbaar nie.
“Dit is tyd om saam te staan en te sê ons betaal slegs vir dienste wat gelewer word,” sê ’n ontstoke inwoner wat een van die publieke imbizo’s in die woonbuurte bygewoon het.
- Die watertarief styg met 15% weens die eenheidsprys van water en om te verseker dat die munisipaliteit die koste van die dienslewering verhaal.
- Die instelling van ’n basiese heffing vir water van R25 (behoeftiges vrygestel) is afgekondig.
- Die algehele elektrisiteitstarief styg met 10%.
- Die eiendomsbelastingtarief styg met 6%, waarvan 2% gebruik sal word om waterinkomste te kruissubsidieer.
- Die vullistarief styg met 10%.
- Die riooltarief styg met 10%.
Die voorgestelde begroting is gegrond op die uitgangspunt dat die nasionale tesourie die Eskom-skuld sou oorneem.