’n Jong Welkomse langafstand-vergooier, Freddie Nel, word as een van die topvergooiers in die land gereken.
Hy tel onder die top tien vergooiers in die wêreld en is vir die Proteaspan wat in November aan die wêreldkampioenskapsbyeenkoms in Paraguay gaan deelneem, gekies.
Nel (33) het in 2021 reeds Protea-kleure verwerf nadat hy in Augustus 2018 aan die sportsoort begin deelneem het.
Hy spesialiseer met die 100 g-gewig.
In 2019 het hy ’n tweede plek op die Suid-Afrikaanse kampioenskapsbyeenkoms in Welkom behaal. Daardie jaar het hy ook aan die wêreldkampioenskapsbyeenkoms in Pretoria deelgeneem.
In 2021 was die Protea-vergooispan, waarvan hy ’n lid was, derde op die wêreldkampioenskapsbyeenkoms in Italië. Dit was die eerste keer dat ’n Proteaspan ’n medalje gewen het.
Die verste afstand wat Freddie nog met ’n 100 g-gewig gegooi het, is 272,97 m.
Hy spog reeds met twee Suid-Afrikaanse rekords, asook twee provinsiale rekords. Die ander lede van die Proteaspan wat in Paraguay gaan deelneem is Marius Coetzee van Klerksdorp, Deon van der Merwe van Krugersdorp en Bossie Janse van Rensburg van Pretoria.
Dié byeenkoms word van 7 tot 10 November gehou. Dit gaan elke lid van die span sowat R40 000 kos om mee te ding, geld wat hulle self moet insamel.
Volgende jaar word die wêreldkampioenskapsbyeenkoms in Tunesië gehou, en die jaar daarna in Argentinië. Nel hoop om ook daar sy stem te gaan dik maak.