Erik Rautenbach (35), Luzinda Harmse en hul dogtertjie, Zonike (6).Foto: Verskaf

Credit: SYSTEM

Sy mis haar pappa verskriklik en vra die heeltyd waar hy is.

Zonike Rautenbach (6) het Sondag (22/01) vergeefs haar pa uit die water probeer trek waar hy glo deur ’n pomp van die swembad in die Aldam-vakansieoord in Ventersburg vasgesuig is. Hy het verdrink.

Zonike het aan haar ma, Luzinda Harmse, gesê sy voel “iets” in die water. Die meisietjie het toe in die water geduik en haar pa, Erik Rautenbach (35), sien vassit.

Die gesin, wat in Riebeeckstad, Welkom, woon, het Sondag die vakansieoord besoek en verskeie kere met die waterglybaan afgegly, sê Harmse.

Hulle het in ’n stadium gehoor dat die pompe afgeskakel gaan word en teen 14:00 besluit om vir oulaas die glybaan te gebruik.

Rautenbach het by die swembad bly sit terwyl Harmse en Zonike na die bopunt van die glybaan opgeklim het.

Toe Harmse in die swembad land, het sy dadelik gevra waar Rautenbach is, want sy kon hom nêrens sien nie.

Zonike het ingeduik en haar pa onder die water sien vassit. Sy het hom aan die hand gegryp, maar kon hom nie beweeg kry nie.

Harmse het om hulp geroep omdat dit gelyk het asof Rautenbach deur ’n pomp vasgesuig word, maar omstanders kon hom ook nie uit die water kry nie.

Intussen het iemand die pomphuisie se slot oopgebreek en die pomp afgeskakel. Rautenbach is uit die water gehaal.

Mense het hom probeer bybring, maar hy het nie sy bewussyn herwin nie.

Harmse sê sy skat Rautenbach was tussen vyf en sewe minute onder die water.

“Ons dink sy hoed het dalk in die swembad gewaai en hy wou dit uithaal.”

Sy sê die pomp wat die water vir die glybaan pomp, is glad nie afgesper nie en is sowat ’n meter van waar die meeste mense in die swembad beland.

Die familie het ’n strafregtelike klag by die Winburgse polisie ingedien.

Die polisie doen net ’n geregtelike doodsondersoek, sê kapt. Stephen Thakeng, polisiewoordvoerder.

Hy sê die polisie in Winburg is Sondag omstreeks 16:00 na die oord ontbied.

Paramedici het Rautenbach toe reeds dood verklaar.

Sy ma, Alice Wallace, sê die polisie gee die gesin wonderlike ondersteuning en staan die familie met trauma­berading by.

Die geregtelike ondersoek is reeds in ’n gevorderde stadium, sê Wallace.

Harmse sê sy mis Rautenbach verskriklik en Zonike vra aanhoudend waar is haar pappa.

“Dit was dalk sy tyd gewees, maar nie só nie.”

Rudi Smit, bestuurder van die vakansieoord, sê dit is die eerste keer in die 13 jaar dat hy by die oord is dat so iets gebeur.

“Ons betreur die voorval en gee ons volle samewerking aan die polisie in die geregtelike ondersoek,” sê Smit.

Harmse sê sy en Rautenbach het saam ’n onderneming bedryf wat huishoudelike toerusting verkoop en aanbring.

Rautenbach word ook deur sy ma, sy pa, Kobus Rautenbach, stiefpa, James Wallace, en broers, Will Rautenbach en Ryan Oliver, oorleef.

Rautenbach word Vrydag (27/01) om 11:00 vanuit die Ou Apostolosie Kerk in Riebeeckstad begrawe.

Dit was dalk sy tyd gewees, maar nie só nie.

– Luzinda Harmse

You need to be Logged In to leave a comment.