’n Skietgeveg tussen die Bloemhof-polisie en vier gewapende rowers het uitgebreek ná ’n gewapende roof by ’n snoepwinkel in Bloemhof.

’n Onbekende bedrag kontant en selfone is gebuit.

Woensdag (20/07) omstreeks 19:10 het ’n 28-jarige sake-eienaar kliënte in haar snoepie bedien toe twee mans haar gekonfronteer het en haar van ’n onbekende bedrag kontant beroof het.

Sy is beveel om na die slaapkamer te gaan, waar nog twee mans vir haar gewag het.

Hulle het reeds haar man, wat op die vloer gelê het, gyselaar gehou.

Die twee mans in die slaapkamer het vuurwapens op die egpaar gerig. Hulle sê die handwapens wat die oortreders gebruik het, het glo polisie-wapens opgehad.

Benewens die geld wat uit die kasregister gesteel is, het die mans ook ’n lugtydmasjien, die slagoffers se beursies, hul selfone en kontant gesteel.

Die vier verdagtes het te voet in die rigting van Bothaville gevlug.

Die eienaar van die snoepie het die verdagtes agternagesit en gesien hoe hulle in ’n wit Volkswagen Polo klim.

Hy het die Bloemhof-polisie in kennis gestel. Die voertuig is opgespoor.

Die polisie en vier oortreders het op mekaar geskiet.

Niemand is beseer nie en die verdagtes het in die veld ingevlug.

Die 42-jarige bestuurder van die voertuig is in hegtenis geneem.

“Ná ’n deeglike ondersoek is drie van die vlugtende verdagtes in hegtenis geneem. Die polisie het twee van die sel­fone by hulle gekry. Die voertuig is geskut,” sê kapt. Stephen Thakeng, mediaskakelbeampte vir die SAPD in Lejweleputswa.

Sersante Sello Nkoane, Lukas Mojanaga en Stokvel Makhoana, asook konstabels William Fokwebe, Lesiba Kau en Trinity Ndlovu, van die Hoopstad-polisiekantoor het die inhegtenisnemings gedoen.

Die Bloemhof-polisie het hulle bygestaan.

You need to be Logged In to leave a comment.