Sewe verdagtes moet voor die Kroonstad-landdroshof vir die besit van gesteelde eiendom en sameswering om ’n misdaad te pleeg, verskyn nadat die Welkomse taktiese reaksiespan (TRT) op 1 272 antiretrovirale (ARV)-tablette met ’n geraamde waarde van R480 000 in ’n gastehuis in Kroonstad ontdek het.
Die verdagtes is tussen die ouderdomme van 34 en 39 jaar, en moet op 3 Oktober in dié hof verskyn.
Volgens kapt. Christopher Singo, Valke-woordvoerder, het lede van die TRT in Welkom op 17 Oktober 2020 inligting ontvang oor die verdagtes wat ARV-tablette in Kroonstad gaan verkoop. Die polisie het toe die inligting opgevolg en ’n voertuig in Welkom voorgekeer. Die voertuig is deursoek en twee klein houers tablette is ontdek.
“Die verdagtes wat binne die voertuig was, het aan die polisie gesê die houers behoort aan die eienaar wat by ’n gastehuis in Kroonstad is. Die polisie het na Kroonstad gegaan en die kamers van die verdagtes deursoek.
“Tydens die soektog was die massa ARV-tablette ontdek,”sê Singo.
Die saak is toe aan die Valke se Ernstige Georganiseerde Misdaad-ondersoekspan in Welkom vir verdere ondersoek oorhandig. Die dagvaarding is op Woensdag 13 September aan die verdagtes beteken.