Bekampingsoptredes is deur lede van die Vala uMgodi-veldtog by oopgroefmyne, tonnels en skagte uitgevoer. Foto: SAPD


Die ventilasieskag by Beatrix-mynskag 4, buite Welkom, is versëel en gesteelde items, en dwelms is gekonfiskeer tydens ’n verskerpte optrede deur bekamping- en proaktiewe-spanne van Operasie Vala uMgodi, wat saam met lede van die Suid-Afrikaanse Nasionale Weermag (SANW) deur geïdentifiseerde onwettige mynbou-brandpunte gewerk het.

Betrokkenes en belanghebbendes het in die verlede smokkelgoedere onderskep, en het verskeie kere in dié skag afgesak. Die spanne het patrollies rondom skag-4 uitgevoer en vermoedelik gouddraende materiaal wat 129,30 kg weeg, ’n windbuks, ’n mes en ’n klein selfoon gevind.

Die span het op inligting gereageer en hulle bekampings-veldtog uitgesprei na ’n huis in Chuimestraat, Thabong, en nog ’n huis in Schoemanstraat, Riebeeckstad. ’n Geweerkluis en diefwering-deurraam wat tydens ’n sakeroof gesteel is, is teruggekry en op beslag gelê.

Die operasie is uitgebrei na Monyakeng naby Wesselsbron waar ’n 26-jarige man in besit van dagga, in hegtenis geneem is. Die polisie het beslag gelê op 142 klein sakkies met gedroogde dagga-blare daarin. Hulle het ook los dagga in ’n plastieksak en ’n elektriese skaal gekry.

’n Saak van handel in dagga is by die Wesselsbron-polisiestasie geopen.

Die samewerking tussen die polisie en private sekuriteitsmaatskappye het steeds goeie resultate opgelewer. Agtien ondergrondse, onwettige mynwerkers tussen die ouderdomme van 27 en 51 jaar is by Kopanang-myn in hegtenis geneem.

Items soos selfone en SIM-kaarte is deur die polisie in beslag geneem.

Sake van betreding van ’n myngebied met bykomende aanklagte van poging tot diefstal van staatsminerale en edelmetale, en oortreding van die Wet op Immigrasie is by die Vierfontein-polisiestasie geopen.

Die problematiese ventilasieskag by die Beatrix-goudmyn buite Welkom is verseël.Foto: SAPD

’n Luggeweer, mes en selfoon wat deur vlugtende onwettige mynwerkers agtergelaat is, is deur die polisie in beslag geneem. Foto: SAPD

Hierdie geweerkluis is tydens ’n sakeroof gesteel, en is teruggevind tydens Vala uMgodi-optredes in Chuimestraat, Thabong.Foto: SAPD

In Monyakeng naby Wesselsbron is ’n 26-jarige man in besit van dagga in hegtenis geneem. Foto: SAPD

You need to be Logged In to leave a comment.