As deel van die omvattende polisie-optrede, Vala uMgodi, is vyf mans vir onwettige goudverwerking, besit van dwelms en koperkabeldiefstal in Thabong, Kutlwanong en Kroonstad in hegtenis geneem.
Op Sondag 17 November het beamptes van die intelligensie-gedrewe operasie in die 2010-gedeelte van Thabong ’n huis wat aan hulle as ’n teiken geïdentifiseer is, deursoek.
Boraks-sout, ’n chemikalieë wat gebruik word wanneer gouddraende materiaal tot amalgaam verwerk word, 41 smeltpotte en agt bakke wat gebruik word vir die verwerking van goud, asook ’n blaasvlam is in ’n tydelike werkswinkel aan die agterkant van die huis gevind.
’n Man is in hegtenis geneem en ’n saak van besit van goudverwerkingstoerusting met ’n bykomende klag van die Wet op Oortreding van Immigrasie is by die Thabong-polisiestasie geopen.
In ’n aparte optrede, ook op Sondag, het ’n bekamping- en proaktiewe-span wat onder Operasie Vala uMgodi ontplooi is, voortgegaan om deur dwelmposte en brandpunte te beweeg om misdaad uit te roei.
Hulle het ’n dwelmhuis in Kutlwanong naby Odendaalsrus geïdentifiseer, waar hulle 78 Mandrax-tablette en tik in ’n pitbull-hok ontdek het.
Die straatwaarde van die dwelms waarop beslag gelê is, word op R4 700 geraam. Twee verdagtes is in hegtenis geneem.
Die optrede is uitgebrei na Maokeng in Kroonstad, waar ’n 43-jarige man in besit van vermoedelik gesteelde koperkabel gevind is. ’n Saak van knoeiery en beskadiging van noodsaaklike infrastruktuur is by die Kroonstad-polisiestasie geopen en die verdagte is in polisie-aanhouding.
Die spanne het teruggekeer na Thabong waar die 30-jarige Teboho Lebina, wat vir die besit van vermoedelik gouddraende materiaal en verwerkingstoerusting gesoek was, by G-Hostel in hegtenis geneem is.