Veldbrand-chaos laat drie in hospitaal beland

’n Plaasvoorman van Ventersburg, Johan Beket (56), het Sondag ernstige brandwonde in ’n veldbrand opgedoen en twee vragmotorbestuurders is in ’n botsing beseer toe vlamme oor die N1 buite die dorp gespring het.


’n Plaasvoorman van Ventersburg, Johan Beket (56), het Sondag ernstige brandwonde in ’n veldbrand opgedoen en twee vragmotorbestuurders is in ’n botsing beseer toe vlamme oor die N1 buite die dorp gespring het.

Beket is Sondag (28/08) met derdegraadse brandwonde oor 36% van sy lyf in die waakeenheid van die Bongani-hospitaal opgeneem. Sy toestand word as ernstig beskou.

Beket werk vir Ben Caxton, ’n sakeman van Gauteng. Hy het op ’n buurplaas gaan help toe hy en nog twee mans deur vlamme en rook oorval is.

Die ander twee is nie ernstig beseer nie, maar Beket, wat ’n bakkie na veiligheid wou verskuif, het brand­wonde aan sy arms, bene en gesig opgedoen.

“Gelukkig het die wind stormsterkte gewaai en was die vlamme vinnig oor hom,” sê sy vrou, Petro.

Petro sê Caxton en die boeregemeenskap van Ventersburg ondersteun haar ongelooflik.

Sy is ook tevrede met die behandeling wat Beket by die provinsiale hospitaal ontvang.

Sondag het chaos op die N1 tussen Winburg en Ventersburg geheers toe digte rook weens ’n veldbrand die pad onrybaar gemaak het.

’n Vragmotorbestuurder het in die digte rook reg van voor teen ’n ander vragmotor vasgery en albei bestuurders is in die hospitaal opgeneem.

“Daar was nie enige verkeerspolisiebeamptes op die toneel nie en net een polisielid het gehelp waar hy kan,” sê Johan Terblanche van die Goudveld-brandbestrydingsvereniging.

Boere moes die brand teen die N1 probeer beheer en teenbrande maak, terwyl padgebruikers opdragte om stadig te ry, geïgnoreer het, sê hy.

Hy sê die verkeer was baie swaar en omstandighede was lewensbedreigend omdat baie mense teen ’n hoë spoed deur die digte rook gejaag het.

Terblanche sê die verkeer is later, toe die ergste al verby was, in Kroonstad en Winburg herlei.

Volgens verkeersbeamptes werk hulle nie meer ná 16:00 of oor naweke nie omdat die Vrystaatse departement van polisie, paaie en vervoer nie geld het om vir oortydwerk te betaal nie.

Hillary Mophethe, woordvoerder van die departement, het dit bevestig.

Terblanche sê verskeie brande het min of meer dieselfde tyd uitgebreek, wat Sondag brandbestryders se werk bemoeilik het.

’n Brand buite Welkom, op die pad na Bultfontein, het ’n skuur beskadig en ’n aantal plaasdiere het gevrek. Brandbestryders kon dié brand en ’n aantal ander buite Welkom vinnig in bedwang bring.

Johan Breytenbach van die Vrystaatse sambreelbrandvereniging Fsufpa, sê daar was ook brande by Vredefort, Bothaville, Fouriesburg en naby Petrusburg, wat almal vinnig geblus is.

Warm, winderige toestande het die naweek oor die Vrystaat geheers en boere hoop dat die eerste lentereëns binnekort ’n einde aan die brandtyd sal maak.

Categorised:

You need to be Logged In to leave a comment.