Die De Witt-gesin, van links is Mienke (1), ma Shelby, Kaylin (8) en pa Kevin.Foto: Verskaf


Sy is op 8-jarige ouderdom met die bloedsiekte leukemie gediagnoseer.

Maar tog is Kaylin de Witt ’n positiewe meisie en vat elke dag soos dit kom. Sy is sterk en braaf sê haar ouers, Kevin en Shelby de Witt.

Dié vegtertjie is op 27 Junie met leukemie (Acute lymphocytic leukemia) gediagnoseer.

“Ons as ’n familie moes baie vinnig aanpas in ons nuwe normaal. Maar die Here maak voorsiening en ons bly optimisties en weet ons sal hierdie siekte kan oorwin met die krag van Bo,” sê Shelby.

Sy het onraad begin vermoed toe Kaylin se neus buitengewoon tussen 30 tot 50 minute op ’n slag aanhoudend gebloei het. Die oor, neus-en-keelspesialis wou die aartjies in haar neus brand. Ek het die dokter gevra om bloed te trek omdat sy so vinnig blou kolle kry.

“Ek het gedink sy het ’n yster tekort. Dit is toe die patoloë die siekte opgemerk het,” sê Shelby.

Kaylin ontvang een keer per week ’n sakkie sterk chemoterapie en twee maal per week ’n chemo-inspuiting in haar been en ’n steroïed pil.

“Ons is positief oor die toekoms en ons weet die Here het ’n groter plan met Kaylin en ons as gesin,” sê Shelby.

Kaylin se raad: “Wees sterk en bid vir Liewe Jesus want hy kan enige siekte weg vat en Hy is baie lief vir ons.”Die gesin is dankbaar vir die gemeenskap se ondersteuning.

Kaylin, ’n gr. 2-leerling aan die Welkom-Volkskool, is genooi om as beoordelaar op te tree by die Mej. Kanker Gemeenskap-sentrum se kronigingsplegtigheid op 7 September.

Twee groot gesellighede word binnekort ten bate van Kaylin gehou.

Op 13 Julie bied Kosmaak-en-Kôkpraat ’n sop-, sjerrie- en musiekdag by Die Hoenderhok in Virginia aan. Dit kos R200 per persoon en die gasspreker is Madelene Lamprecht met David Gawthorne op die klavier.

Dit word van 11:00 tot 15:00 aangebied.

Tussen 17:00 en 22:00 op 17 Julie tree Marius Dippenaar tydens ’n Spur Legendariese geldsinsameling op.

Om ondersteuning aan Kaylin en haar gesien te bied, bel Kevin by 082-618-1111, of Shelby by 060-966-3744.

You need to be Logged In to leave a comment.