’n Kleinboer wat op ’n hoewe by Hennenman in die Vrystaat boer, het die afgelope vier maande tien beeste en 17 skape in vier voorvalle van veediefstal verloor.
“Ek het nou nie meer skape oor nie, maar is dankbaar dat die polisie my gehelp het om vyf van my beeste die naweek terug te kry,” sê Piet Mononye.
Die beeste is ongeveer R50 000 werd.
Veediewe het in Desember 12 van Mononye se skape gesteel.
In Maart is sy laaste vyf skape gesteel en enkele dae later vyf beeste.
Mononye sê hy bly op die dorp en verlede Dinsdag (12/04) het iemand wat op die hoewe bly hom gebel en gesê sy beeste word gesteel.
Hy het gaan ondersoek instel en sê hy glo die beeste is ’n ent aangejaag en toe opgelaai of andersins die heelpad tot in Virginia, sowat 25 km van Hennenman, aangejaag. Daar was nie voertuigspore op die hoewe nie.
Mononye het ’n klag by die Hennenman-polisiekantoor ingedien en die Lejweleputswa-veediefstaleenheid onder leiding van kapt. David Malete het die voorval ondersoek.
“Die vyf beeste is Maandag (18/04) danksy inligting uit die gemeenskap by die Albany-veilingskraal in Virginia opgespoor”, sê kapt. Stephen Thakeng, polisiewoordvoerder.
Malete en AO Beertjie de Beer, ook van die veediefstaleenheid, het ’n man wat die beeste opgepas het in hegtenis geneem.
Die 40-jarige man is glo ’n Lesotho-burger.
Hy sal binnekort in Hennenman in die hof verskyn op klagte van veediefstal en die oortreding van die immigrasiewet.