Danksy goeie inligting kon die polisie in die Vrystaat vier mense in hegtenis neem wat vermoedelik vee by Welkom gesteel het.
Die verdagtes wou dié vee glo na ’n plaas buite Ventersburg vervoer.
Volgens kapt. Stephen Thakeng, polisiewoordvoerder, het die polisie se misdaadintelligensie-eenheid in Welkom inligting ontvang dat veediewe beplan om beeste by Welkom te steel.
Speurders van Hennenman, die veediefstaleenheid en lede van die polisie se uitklopspan was op die uitkyk vir verdagte voertuie.
Van die lede het op 30 Desember ’n Hyundai-bakkie met ’n sleepwa tussen Hennenman en Ventersburg sien ry en die bestuurder beveel om stil te hou.
Toe die twee mense in die voertuig nie sertifikate kon wys wat hulle magtig om die beeste te vervoer nie, is hulle in hegtenis geneem.
Ses beeste is in hul besit gevind.
In ’n tweede voorval, wat met die eerste voorval verband hou, is ’n man en vrou op dieselfde aand naby Hennenman in ’n Ford Ranger opgemerk.
Thakeng sê die twee het sonder die nodige sertifikate tien koeie met ’n sleepwa vervoer.
Hulle is ook in hegtenis geneem.
Al vier verdagtes is van Thabong.
Die eienaar van die beeste het ’n klag by die polisie in Welkom ingedien.
Die polisie is op soek na die eienaar se veewagter, net bekend as Thabo, wat glo kort ná die diefstal verdwyn het.
Die vier verdagtes het op aanklagte van veediefstal in die hof in Ventersburg verskyn en is op borgtog vrygelaat.
Hulle is John Tswabisi Mahlatsi (31), Ephraim Lepota, Daphney Kanyisile Kataza (28) en Lekgotla Litsoane (31).
Hulle moet weer op 15 Februarie in die hof wees.
Die ondersoek duur voort. Volgens Thakeng verwag die polisie om binnekort nog mense in hegtenis te neem.