Vyf polisielede tussen die ouderdomme van 38 en 50 jaar, is op 28 en 29 Junie in Vereeniging en Welkom in hegtenis geneem.
Die Valke se ondersoekeenheid teen ernstige korrupsie het hulle in twee afsonderlike voorvalle in hegtenis geneem.
Op 28 Junie is ’n 47-jarige vroulike luitenant-kolonel op aanklag van bedrog in Vereeniging gearresteer.
Sy is in 2012 tot hierdie pos in Kestell bevorder. Met die hervatting van haar pligte het sy nie in die dorp gewoon nie, maar na bewering met ’n amptelike voertuig tussen Bethlehem en Kestell gereis.
“Maande later het sy na bewering ’n eis vir hervestigingskoste van meer as R19 000 ingedien, sonder om na Kestell te verhuis. Die hervestigingskoste is ’n voordeel wat gegee word aan lede wat in ’n pos buite hul primêre woonplek aangestel is,” sê lt. kol. Zweli Mohobeleli, woordvoerder van die Valke.
In nog ’n voorval is vier lede verbonde aan die Kroonstad K9-eenheid en Zamdela polisie op 29 Junie deur die Valke in Welkom se ernstige korrupsie-ondersoekeenheid in hegtenis geneem.
“Hulle het na bewering R1 miljoen wat verhaal is van lede van die publiek, wat dit ná ’n transitorooftog in 2022 in Sasolburg gesteel het, gevat,” sê Mohobeleli.
Daar word beweer dat in plaas daarvan om die geld wat teruggevind is in die polisiekluis te registreer, het die polisiebeamptes die geld in hul eie sak gesteek.
Ná ’n noukeurige ondersoek deur Welkom se ondersoekeenheid is ’n lasbrief vir hul inhegtenisneming uitgereik.
Hulle staan tereg op aanklagte van diefstal, regsverydeling en geldwassery. Die inhegtenisneming van ’n vyfde verdagte, ook ’n polisielid, is op hande, sê Mohobeleli.
Genl.maj. Mokgadi Bokaba, die Vrystaatse hoof van die Valke, is ontsteld oor die gedrag van lede wat nie twee keer daaraan gedink het om hul eed te verraai nie.
“Ons is meedoënloos in ons pogings om korrupsie uit te roei, ook binne ons geledere. Dit is ons grondwetlike plig om van die stelsel van vrot elemente ontslae te raak en die vertroue van Suid-Afrikaners in die polisie te herstel. Wees verseker, daar sal nog inhegtenisnemings volg soos ons ons onafhanklikheid en dié van die staat afstempel,” onderneem sy.