Die Welkom-Valke het ’n Matjhabeng-munisipale werknemer en twee diensverskaffers in hegtenis geneem op aanklagte van bedrog en vervalsing.
Hulle het Maandag in die Welkom-landdroshof verskyn en is elk op borgtog van R15 000 vrygelaat.
Die Valke se Ernstige Kommersiële Misdaad-ondersoekeenheid het die munisipale werknemer, Nokwanda Veronica Xamesi (45) en die twee diensverskaffers, Ernest Thapelo Kgomo (48) en Tubatsi Masia (46) onderskeidelik op Sondag en Maandag in Bloemfontein en Welkom in hegtenis geneem.
Voorheen is berig dat die Matjhabeng plaaslike munisipaliteit gedurende 2017 twee diensverskaffers, ’n kontrakteur en ’n konsultant, vir die Nyakallong-stormwaterstelselprojek aangestel het.
Luidens hofstukke is Xamesi tydens die konstruksie as ’n projekbestuurseenheid-ingenieur aangestel. Tydens die voorlopige oudit deur die ouditeur-generaal is ontdek dat bedrieglike betalings ten bedrae van meer as R7 miljoen aan die kontrakteur gemaak is vir die dienste wat nie gelewer is nie.
Thanduxolo Khalipha, die uitvoerende burgemeester van die Matjhabeng plaaslike munisipaliteit, verwelkom die inhegtenisneming.
“Die aanklagte sluit bedrog, vervalsing van dokumente en geldwassery in, en word beskou as ernstige misdade wat die integriteit van ons instelling en demokrasie ondermyn, en ’n nadelige impak op ons gemeenskap het,” sê Tshediso Tlali, woordvoerder in die kantoor van die uitvoerende burgemeester.
“Soos belowe toe ons die amp aanvaar het, bly ons daartoe verbind om die hoogste standaarde van integriteit en aanspreeklikheid binne ons organisasie te handhaaf. Ons verstaan ??die nadelige invloed van sulke voorvalle vir die mense van Matjhabeng, en ons wil die gemeenskap verseker dat ons hierdie saak in ’n ernstige beskou. Die inhegtenisneming van hierdie individue stuur ’n sterk boodskap dat niemand verhewe is bo die wet nie.” sê Khalipha.
Manie Pretorius, VF Plus-raadslid van Matjhabeng sê dat as die burgemeester daadwerklik daartoe verbind is om korrupsie en staatskaping in Welkom te keer sal hy en sy ANC-koukus ’n VF Plus mosie vir ’n leefstyloudit van munisipale amptenare steun.
“Die VF Plus het weer aangedring dat ’n mosie, wat reeds verlede jaar ingedien is en wat nog nie voor die raad gedien het nie in die volgende raadsvergadering oorweeg word. Khalipha het geen ander keuse om so mosie te steun nie. Vir te lank het die ANC Matjhabeng leeg gesteel. ’n leefstyloudit van alle amptenare sal wys hoe diep ongeruimdhede in die munisipaliteit strek,” sê Pretorius.
Die DA se Maxie Badenhorst sê hulle is verheug oor die jongste arrestasies in die bedrogsaak wat verband hou met die Nyakallong stormwaterstelsel.
“Ons sien hierdie arrestasies as ‘n stap in die regte rigting en hoop en vertrou dat dit sal dien as ‘n waarskuwing aan diegene binne die munisipaliteit wat dink hulle kan vir altyd met korrupte dade wegkom.
Die feite wat deur die Valke-woordvoerder, Christopher Singo, onthul is, is skokkend. Die bedrieglike betalings en die vermoedelike medewerking van interne rolspelers by die projek is ernstige oortredings en dui daarop dat daar heel waarakynlik nog werknemers, steeds binne die Munispaliteit, hierby betrokke kon wees.
Ons vertrou dat die voortgesette ondersoek en regsproses verdere bewyse sal onthul en dat diegene wat verantwoordelik is vir hierdie bedrog tot verantwoording geroep sal word,” sê sy.