Skokkende onthullings van onreëlmatige uitgawes van R2,5 miljard in die departemente van gemeenskapsveiligheid, paaie en vervoer en menslike nedersettings is aan die lig gebring.
Dít blyk uit verslae wat in die komitee oor openbare rekeninge geopenbaar is. Die department het sedert 2019/’20 hierdie onreëlmatige uitgawes opgehoop. In die Julie 2023-verslag word “beduidende beheertekortkominge binne die departement” deur die ouditeur-generaal (OG) genoem.
Die OG het in die komitee verwys na die Steynsrus-Kroonstad-pad as ’n voorbeeld van swak prestasie, waar miljoene bestee is sonder vordering.
David van Vuuren, DA-woordvoerder oor finansies in die Vrystaatse Wetgewer, sê dit blyk dat die provinsiale regering vergeet het dat goeie padinfrastruktuur een van die primêre vereistes vir ekonomiese ontwikkeling is. “Sonder die behoorlike infrastruktuur kan mense nie van een plek na ’n ander reis nie, ondernemings kan nie hul produkte en dienste doeltreffend versprei nie, en boere kan nie hul produkte op die mark kry nie. Dit het ’n direkte impak op indiensneming, veral in ’n provinsie met een van die grootste padnetwerke in die land,” sê Van Vuuren.
Dit is ook duidelik gemaak dat die departement van menslike nedersettings geen besorgdheid oor behoorlike bestuurspraktyke het nie.
Dit is onder die aandag van die komitee gebring dat die departement onreëlmatige betalings aan kontrakteurs gemaak het sonder enige vorm van kontrak. Dit is geopenbaar dat die meeste indien nie al hul kontrakte onreëlmatig is nie.
Dié departement het R4,9 miljard se onreëlmatige uitgawes wat nog ondersoek moet word. Die departement is afhanklik op toelae van die nasionale departement. Sedert 2010 is duidelik gemaak dat hierdie departement nie in staat is om sy kern-grondwetlike mandaat na te kom nie. Die OG berig dat hierdie departement in 2022/’23 net 18,75% van hul bou-teikens bereik. Vir vanjaar is 483 huise beplan.
Verslae in die parlement toon dat die Vrystaat 770 behuisingsprojekte het wat vasgeval het met geen stappe teen kontrakteurs nie, en geen swartlys van kontrakteurs wat nie hul verpligtinge nakom nie.