Shyenne Laubscher (13) is as die beste senior meisieswemmer op die provinsiale Vlak-1-swembyeenkoms aangewys.


Shyenne Laubscher (13) is as die beste senior meisie op die Vrystaat se vlak-1-swem­byeenkoms aangewys. Sy het onder die drie topswemmers in al haar nommers getel.Foto: Verskaf

Shyenne Laubscher (13) het aan die meeste items deelgeneem en die top drie posisies van al haar items gewen.Foto: Verskaf

’n Jong swemmer van Welkom is op die Vrystaat se vlak 1-byeenkoms as die beste senior meisie aangewys.

Dié byeenkoms is op 5 en 6 Maart in Bloemfontein aangebied.

Shyenne Laubscher (13) het aan die meeste nommers deelgeneem, en ook onder die drie topswemmers in al haar nommers getel.

Die Welkom Aquatics-swemklub, waarvan sy lid is, het die byeenkoms oorheers.

Christo Jansen, afrigter, berei sy swemmers nou voor vir die kampioenskapsbyeenkoms wat in Junie in Sasolburg aangebied word.

As tienjarige het Shyenne in 2019 die eerste keer leer swem. Haar eerste afrigter was Clinton Thomas van die Welkom Super Seals-swemklub. Ná slegs agt weke se lesse het hy haar vir ’n gala ingeskryf.

Toe Thomas die klub verlaat, het Shyenne haar by die Welkom Aquatics-swemklub aangesluit.

Shyenne is ’n veelsydige sportvrou. Sy het in gr. 4 hokkie begin speel, en is nou lid van die Welkom-Gimnasium se o.14-span.

“Sy het laat met hokkie begin, want dit het elke jaar met tennis en dans gebots,” sê haar ma, Jules Laubscher.

“Shyenne is ons wonderwerkkind. Toe sy twee was, het sy in ’n swembad geval en na die bodem gesink. My man, Piet, en ’n vriend het ingeduik om haar te red,” sê Laubscher.

“Ons het nie gedink sy sal ooit weer in die water klim nie.”

Dieselfde jaar het Shyenne ’n vinger aan haar linkerhand verloor toe sy dit in ’n skuifdeur toeslaan.

“Die vinger is met ’n operasie geheg, en selfs die nael groei weer,” sê haar ma.

Sy het as baba asma gehad, maar het dit oorkom deur sport te beoefen.

“As vierjarige het sy haar linker­gewrig gebreek nadat sy van ’n klimraam afgeval het, en as tienjarige het sy haar linkervoorarm gebreek toe ’n wawiel skeefloop.”

Die been in haar arm het skeef geheg. Hoewel dit haar spoed beïnvloed, laat sy nie toe dat dit haar terughou nie.

“Ek het al so baie keer my maats met my skewe arm raakgeslaan as ons oefen, maar dit is beslis nie aspris nie,” sê Shyenne.

“Die arm het maar partymaal ’n wil van sy eie.”

Shyenne is die ander helfte van Tops & Tags, een van die grootste gemeenskapsprojekte wat in Welkom bedryf word. Sy en haar vriendin Kristi Long het dit twee jaar gelede begin, met die doel om ’n rolstoel vir ’n behoeftige te bekom.

“Ons as ouers sê al van kleintyd af vir haar dat sy alles moet probeer en die geleenthede moet aanpak wat oor haar pad kom,” sê Laubscher.

“Sy moenie eendag terugkyk en spyt wees nie. God stuur alles oor ons pad vir ’n rede.”

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Untitled post 265989
    Vista E-edition 10 July 2025