Tyd vir vere afskud en spasie maak vir vernuwing.

Die seisoen het gedraai, die bome het begin bot en die voëls en die res van die skepping ontwaak al hoe vroeër in die oggend.

Met die koms van die lente, spreek dit ook ons kerklike jaar aan. ’n Tyd van nuwe groei, nuwe opwinding en nuwe hoop. Ons word uitgedaag om saam met God en Sy skepping te groei in ons wandeling saam met Hom.

Daarom kan my gedagtes nie anders as om te draai na Miga 6:8 (AFR 2020): Hy het aan jou mens bekend gemaak wat goed is: Wat anders vereis die Here van jou as om net te doen wat reg is, om troue liefde te bewys en om nederig die pad saam met jou God te loop?

Met die koms van die nuwe seisoen is dit nou ’n nuwe geleentheid om die vere af te skud, weer opnuut opgewonde te raak en om ruimte te maak om te groei in die bediening.

Meeste van ons is besig om na die toekoms te kyk.

Maar die teks het net weer aan my bevestig dat die pad wat ons saam met die Here en sy geliefdes loop, ons gereeld geleenthede gee om te herlaai, nuut te ontwaak, en reg te maak vir die volgende rondte.

In nederigheid moet ons die pad saam met God en Sy geliefdes bewandel en uit troue liefde optree, sodat ons werklik reg sal wees vir die lente en die nuwe lewe wat daarmee saamkom.

Dit is nou die tyd vir vernuwing, en om met nuwe passie en entoesiasme te besin oor God, mens en skepping.

Ds. Domonic Basson, NG kerk St Helena

You need to be Logged In to leave a comment.