Twee vas ná skietgeveg met polisie

Twee mans wat in ’n skietgeveg met die polisie in Rosendal betrokke was, is in Thabong aangekeer en sal nou in die Hennenman-landdroshof verskyn.


Twee mans wat in ’n skietgeveg met die polisie in Rosendal betrokke was, is in Thabong aangekeer en sal nou in die Hennenman-landdroshof verskyn.

Die verdagtes (onderskeidelik 33 en 34 jaar oud) sal op aanklagte van die besit van ’n ongelisensieerde vuurwapen en ammunisie, en die besit van vermoedelik gesteelde eiendom op Vrydag 6 September verskyn.

Op Dinsdag 3 September het ’n polisie-span inligting oor gesoekte verdagtes ingesamel nadat ’n skietvoorval op Saterdag 31 Augustus tussen die verdagtes en die polisie in Rosendal plaasgevind het.

Die inligting is geoperasionaliseer en die span is na ’n huis in Thabong gelei. Met hulle aankoms het die polisie een verdagte gekry. Hy was in besit van twee selfone en een skootrekenaar.

Die items is gebuit uit ’n huisroof in Hennenman. Die items is in ’n Volkswagen Golf gevind. Die polisie het ook op die voertuig beslag gelê. Die verdagte is vir die besit van vermoedelik gesteelde eiendom in hegtenis geneem.

Die polisie is toe na ’n ander huis in Thabong, waar ’n tweede verdagte aangekeer is nadat hy probeer het om die polisie te ontduik. Hy is vir die besit van ’n ongelisensieerde vuurwapen en ammunisie, en die besit van vermoedelik gesteelde eiendom in hegtenis geneem.

Die polisie het beslag gelê op ’n Rossi-rewolwer, verskillende soorte ammunisie, ’n skootrekenaar, ’n windbuks, bestuurslisensies, selfone en selfoonherlaaiers, ’n rekenaarmuis, motorsleutels, rekenaarspeletjie-toestelle, ’n skootrekenaarsak en ’n holster.

Categorised:

You need to be Logged In to leave a comment.