Twee mans is gesamentlik R50 000 beboet, of vyf jaar tronkstraf elk, nadat hulle skuldig bevind is vir besit van perlemoen.
Sabriye Huseike (28) en Osman Abdulkarim Jama (45) het Vrydag 24 Maart voor die Kroonstad-streekhof verskyn, waar hulle skuldig gepleit het vir die besit van perlemoen, korrupsie en bykomende aanklagte van onwettige immigrasie.
Op 17 Februarie het Kroonstad se hoofwegpolisie tydens patrollies op die N1 van Ventersburg na Kroonstad ’n verdagte voertuig gesien.
Die polisie het die voertuig voorgekeer en versoek om dit binne te deursoek. Die verdagtes het die polisie probeer uitlok en hulle R10 000 aangebied om nie die voertuig te deursoek nie.
“Die polisie het voortgegaan en die voertuig deursoek. Tydens die soektog het hulle bokse ontdek met gedroogde perlemoen. Die verdagtes is toe in hegtenis geneem en die saak is aan die Valke se Ernstige Georganiseerde Misdaad-ondersoekspan in Welkom oorhandig vir verdere ondersoek,” sê kapt. Christopher Singo van die Valke.
Ná ’n reeks hofverskynings het die hof ’n boete van R20 000 aan Huseike uitgereik op aanklag van die besit van perlemoen, of tot vyf jaar gevangenisstraf gevonnis.
Op aanklag van korrupsie is hy ’n boete van R10 000 of vyf jaar gevangenisstraf opgelê. Hy is ook gevonnis tot drie maande gevangenisstraf vir onwettige immigrasie wat geheel en al vir vyf jaar opgeskort is.
’n boete van R20 000 is aan Jama uitgereik op ’n aanklag van die besit van perlemoen, of tot vyf jaar gevangenisstraf gevonnis.