Twee mans van Bronville is effektief 20 jaar tronkstraf opgelê nadat hulle skuldig bevind is op klagtes van moord, poging tot moord, voertuigkaping en ontvoering.
Die beskuldigdes, Robert Maine (29) en Thato Mokoena (32), het in aanhouding gebly totdat hulle op 27 Augustus in die Welkom-landroshof gevonnis is.
Dít volg nadat hulle ’n Bronville-vrou en haar twee kennisse in Julie 2019 aangerand het.
Dipuo Matlhoko (25) het destyds twee mans gevra om haar by te staan met haar trek vanaf Bronville na Odendaalsrus.
Hulle is deur twee mans met vuurwapens gekonfronteer en na ’n nabygeleë vullisstortingsterrein gedwing.
Die slagoffers is geslaan en met pangas aangerand. Een van die mans het aan sy beserings beswyk terwyl die ander voorgegee het dat hy dood is. Ná ’n ruk het die twee oorlewendes daarin geslaag om te ontsnap.
Hulle het hulp versoek van ’n verbygaande polisievoertuig.
Die gekaapte voertuig is in Welkom met bloedvlekke opgemerk en twee verdagtes wat in besit was van die gesteelde eiendom, is aangekeer.
AO Bertus Olivier het die saak ondersoek.
Maine en Moekena is albei skuldig bevind en tot onderskeidelik 36 en 28 jaar tronkstraf gevonnis.