‘n Inwoner van Odendaals-rus het Saterdagaand die koue getrotseer toe hy, geklee slegs in ‘n T-hemp en ‘n kortbroek, ‘n nag in die hondehokke van die Virginia Dierebeskermingsvereniging deurgebring het.
Sy doel om bewusmaking te skep oor die haglike toestande waarin mishandelde en verwaarloosde diere verkeer.
Leon Bester (55), wat reeds vyf jaar in Odendaalsrus woon, is geen vreemdeling vir dierewelsyn nie.
Hy het al honderde kilometers gestap, fiets gery en selfs gedraf om aandag op die nood van diere te vestig.
Hierdie keer het hy besluit om letterlik in die diere se skoene te staan, of eerder lêplekke te lê, ten spyte van die ysige temperatuur.
“Ek het geen komberse of warm klere saamgebring nie. Ek het my vertroue in die goedheid van die gemeenskap geplaas om my nag hier draaglik te maak,” het Bester gesê.
Al wat hy gevra het, was ‘n skenking van een kombers – iets wat hy later weer aan die DBV geskenk het. ‘n Totaal van 17 komberse is ingesamel.
Volgens hom kan selfs een kombers ‘n groot verskil maak. “Die diere kry net so koud soos ons. Jou skenking mag dalk soos ‘n druppel in die emmer voel, maar saam kan ons ‘n verskil maak,” sê hy.
Bester het die vorige aand by Blessings in Welkom oornag en vroegoggend met sy fiets koers na Virginia gekies om sy nag saam met die diere deur te bring. Vir hom is dit eenvoudig: “As ons elkeen net ‘n bietjie gee, kan ons baie beteken vir dié wat nie vir hulself kan praat nie.”‘