Tronkstraf vir Odendaalsrus-man ná moord op vrou se vriend

’n Man van Odendaalsrus, Sehlabo Makhakhe (33), wat sy vrou se vriend in 2023 vermoor het, is tot 15 jaar direkte tronkstraf gevonnis.

Sehlabo Makhakhe (33), wat sy vrou se vriend in 2023 vermoor het, is tot 15 jaar direkte gevangenisstraf gevonnis ná uitspraak in die Odendaalsrus-landdroshof op 1 Julie. Foto: SAPD


’n Man van Odendaalsrus, Sehlabo Makhakhe (33), wat sy vrou se vriend in 2023 vermoor het, is tot 15 jaar direkte tronkstraf gevonnis.

Op 14 Augustus 2023, omstreeks 20:22, is die polisie na ’n bakleiery by ’n huis in Kutlwanong ontbied. Met hul aankoms is daar tekens van ’n struweling en ’n plas bloed gesien.

“Daar word beweer dat die man sy vrou by haar vriend se huis gaan sien het en haar met ’n 31-jarige man op die gras gekry het. Hy het nie vrae gevra nie, maar die man begin aanval deur hom herhaaldelik met ’n mes in die bolyf te steek,” sê ao. Mahlomola Karelia, ’n woordvoerder van die polisie in die Vrystaat.

Hy sê die slagoffer het probeer weghardloop, maar het in die buurman se erf inmekaargesak. Die verdagte het van die toneel gevlug. “Die bure het die slagoffer na die plaaslike hospitaal gehaas, maar hy is met sy aankoms dood verklaar,” sê Karelia.

Die Odendaalsrus-polisie het ’n saak van moord geopen vir verdere ondersoek.

Presiese misdaadtoneelbestuur is uitgevoer en die moordwapen is op die toneel gevind. Sers Andries Leshoro het die ondersoek oorgeneem. Die verdagte is dieselfde nag opgespoor en in hegtenis geneem terwyl hy by ’n huis in K5, Kutlwanong, weggekruip het en is aangehou vir moord..

You need to be Logged In to leave a comment.