In die o.16-wedstryd het Voortrekker Welkom-Gimnasium met 13 – 8 geklop. Rylen Kirsten (foto), Gimmies se nr. 8, het tydens dié wedstryd ’n goeie wegbreek gemaak. Foto: Ilses Photography


Die span van die Hoërskool Trio in Kroonstad is 2022 se wenner van die Griffon-hoërskoleliga.

Trio het in die eindstryd die Hoërskool Voortrekker van Betlehem met 21 – 15 in ’n spannende en klipharde kragmeting geklop.

Dit het tydens die liga se uitspeelwedstryde Saterdag (13/08) in die HT Pelatona-stadion in Welkom plaasgevind.

Trio se sege is te danke aan goeie samespel en hardnekkige verdediging, veral in die tweede helfte, nadat die Trekkers met rustyd 0 – 14 agter was. In die tweede helfte het hulle teruggeveg om met 15 – 14 voor te loop.

’n Fout teen die einde het hulle duur te staan gekom toe Charlton Basson ’n losbal opgetel het en die wendrie gedruk het.

Saam met hom het PJ Pelser, Ignus de Wet en Jaco Steyn in die agterlyn geskitter.

CJ Taljaard het die skrumskakel laat swaarkry met volgehoue druk en hy het die Trekkers se besit agter die skrums met dodelike verdediging verlam.

Die voorry van Trio het sterk geskrum en was dodelik op die verdediging. Henco Kriek, Conrad Hatting en JD Kirstein het met inklimspel en verdediging die oog gevang.

Saterdag se eindstryde was van die beste in jare met enige span wat kon gewen het.

Die uitslae is soos volg (rustydtelling in hakies): o.14: Witteberg 20 (17) – Voortrekker 17 (3); o.15: Voortrekker 17 (10) – Welkom-Gimnasium 12 (0); o.16: Voortrekker 13 (3) – Welkom-Gimnasium 8 (8). Die tweede spanne se uitslae is: Hentie Cilliers 17 (9) – Trio 13 (6). In die eerste liga was Trio 21 (14) – Voortrekker 15 (0).

Saterdag (20/08) begin die o.21-liga vir die eerste spanne met die Griffons wat die Valke in die HT Pelatona-stadion pak.

Die afskop is om 14:00.

Dit word deur ’n vol oggend se skolerugby voorafgegaan.

Die halfeindronde Kovsie­liga-wedstryde begin reeds om 08:00.


Chris Krause

You need to be Logged In to leave a comment.