Ons het ’n goeie kamp gehad. Maandagaand diep oomblikke met die dogters beleef rondom geloofsekerheid. Hulle gee hul harte vir Jesus. Dan breek 6 Februarie aan.

Nog wonderlike oomblikke saam met die Here en saam met hierdie jong mensies. Nooit sou ons kon raai dat ons ’n paar uur later langs stukkende kinders sou staan in die hospitaal en nog later die aand by lewelose liggaampies wat vanmiddag nog laggend gegroet het nie.

Ons sou staan tussen ligte en geraas by ’n bus wat op sy rug lê, die wrede getuienis van ’n verskriklike tragedie. Ja, inderdaad voel dit of jou siel uitgeruk is.

Maar in die uitruk lê dit nie hopeloos langs my liggaam nie. Dit lê in die hande van die lewende Here wat beter weet as wat ek ooit sal kan.

Daar was dae dat ek net gehuil het, maar dan sien ek hoe die Here my vashou en my stukkie vir stukkie weer aanmekaarsit.

Antwoorde in tragedie is daar nie. In die afgelope klompie weke was ek net so diep bewus van die Drie-Enige God (Vader, Seun en Heilige Gees) wat ons nie vir ’n oomblik alleen los nie.

Nie vir ouers wat ’n kind verloor het nie, ook nie kinders wat in die hospitaal was nie, en hulle ouers nie. Ook nie vir die kinders en hul ouers wat nie fisiek beseer was nie, maar wat onbeskryflike emosionele trauma beleef het. Ook nie vir my nie.

Almal van ons gaan seer sekerlik meer as een keer in ons lewens deur. Onmenslike pyn en trauma. Dit is so maklik om dan weg te draai van die Here af met hoekoms en waaroms. Kwaad vir God, kwaad vir die lewe, kwaad vir mense.

Maar as ons maar net kan besef dat Jesus saam huil, soos wat Hy by Lasarus se graf gehuil het en soos wat Hy buite Jerusalem gehuil het. Sy hart staan nie koud en klinies ver weg van ons stukkende harte nie.

Daarom is sy naam Immanuel – God met ons.

Ons is nie ver weg van Paasfees af nie en in Jesus se lyding, kruisiging, sterwe en opstanding kom Jesus baie, baie naby aan ons. Ek het ook besef daar is geen ander antwoord as Jesus nie. Ons gaan nie troos vind in perfekte antwoorde nie, ook nie in bygelowe of in afhanklikheid nie. Ons troos is in Jesus.

Ek dink aan ons kerk se lering en heel eerste kom op: “My enigste troos in lewe en in sterwe…is dat ek aan Jesus Christus behoort!” In lewe en in sterwe . . . Sjoe wat ’n onbeskryflike stukkie hoop en troos lê daar nie hierin nie? In lewe en in sterwe behoort ek aan Jesus Christus. Maak nie saak hoe stukkend of hoe hopeloos die situasie is nie – in Jesus Christus alleen is daar die anker wat ons nodig het.

Ek dink aan Romeine 8:18-39. Paulus skryf oor ’n skepping wat sug onder lyding en swaarkry. Hy skryf ook oor hoop en dat die Heilige Gees ons in ons swakheid bystaan. Hy laat selfs dinge ten goede meewerk (ek is nog nie daar nie, maar ek glo dit met my hele hart). Ek lees ook dat niks – geen dood of lewe – my van die liefde van Christus kan skei nie.

Die titel van hierdie oordenking is: Tragedie verander jou lewe. Ek het nie gesê hoe nie. Miskien omdat ek nog nie heeltemal weet hoe dit my lewe reeds verander het en nog gaan verander nie. Maar wat ek wel weet is: “Ek loop nie hierdie pad alleen nie!”

  • Vriende mag my seer verhaal jou vandag tot stilstand bring en mag jy in jou seer, jou verlies, jou eensaamheid en in jou saamdra van pyn en trauma. Mag jy troos vind in Jesus. Mag jy beleef dat niks jou van die liefde van Christus kan skei nie.Ds. Christo Nel is leraal aan die NG kerk Riebeeckstad.

You need to be Logged In to leave a comment.