Matjhabeng het ’n onbefondsde begroting vir 2022-’23
goedgekeur.
Dié omstrede begroting is Dinsdagaand (31/05)
op ’n raadsvergadering bespreek. Raadslede Piet Botha en Maxie
Badenhorst het beklemtoon dat die begroting onbefonds is en dat die
verwagte betaalkoers van 75% wat die departement van finansies
gebruik het om die inkomstebegroting te bereken, nooit sal realiseer
nie.
Histories was die invorderingskoers gemiddeld sowat
54%, wat ‘n tekort van 21% op die begrote syfer laat.
Die DA het
ook ‘n probleem gehad met die voorgestelde tariefverhogings op water
teen 11,75%, elektrisiteit 7,47%, tariewe 4%, riolering 8% en
vullisverwydering van 8%. Die bDA het aangevoer dat tariewe nie
verhoog moet word nie, aangesien die inwoners nie volhoubare
dienslewering nieontvang nie.
Matjhabeng het ook
die hoogste werkloosheidsyfer in die Vrystaat, en met die sluiting
van myne wat tot verlore werksgeleenthede lei, kan mense nie bekostig
om vir swak dienslewering te betaal nie.
Ingesluit by die
begroting is ‘n tekort tussen wateraankope en -verkope van sowat R336
miljoen. Dit is as ‘n direkte gevolg van waterlekke en ontoegekende
watergebruik. Die meeste van die historiese township-gebruikers word
nie gemeter nie.
Badenhorst het tydens die vergadering die
raad gepleit dat artikel 139 (5) van die Grondwet opgeroep word,
sodat die Nasionale Tesourie beheer oor die haglike finansies van die
munisipaliteit kan neem. Hierdie pleit is deur die ANC afgeskiet en
die burgemeester het gesê die munisipaliteit het nie hulp van die
tesourie nodig nie.
Badenhorst het hierdie pleit geopper
aangesien Matjhabeng deur die tesourie as een van die 43 swakste
munisipaliteite weens die uitstaande skuld aan Eskom en Sedibeng
Water, waar ‘n bedrag van byna R10 miljard verskuldig is,
geïdentifiseer is.
Die Artikel 139-oproep is ‘n nasionale
tesourie-ingryping, en dit sal help met die bekamping van korrupsie
en die versekering van basiese dienslewering.
Tydens ‘n
vergadering Maandag met die Matjhabeng sake-forum onomwonde gesê ‘n
belastingopstand is op die kaart as die begroting goedgekeur
word.
’n Ingeligte bron het aan Vista gesê die
gemeenskap van Matjhabeng verdien meer as rou riool wat in die strate
afloop en waterverliese van meer as 60%.
Die ANC het nie gehoor
gegee aan een van die voorstelle en waarskuwings deur georganiseerde
sakeondernemings nie en het hul meerderheid gebruik om die
opposisiepartye 37 tot 21 te oorstem.
Dit beteken dat die
begroting vir 2022-’23 goedgekeur word en vanaf 1 Julie 2022 tot 30
Junie 2023 geïmplementeer sal word.
“Weens slegs R305
miljoen wat vir herstelwerk en instandhouding bewillig word, moet die
publiek nie hul asem ophou vir verbeterde dienslewering nie,” het
die bron gesê.
“’n Gebrek aan instandhouding sal lei tot ’n
totale ineenstorting van water-, riool- en elektrisiteitsdienste in
Matjhabeng. Die netwerk is ouer as 60 jaar. ’n Totale ineenstorting
kan so naby as 36 maande van vandag af wees.”
Die netwerk is
ouer as 60 jaar. ’n Totale ineenstorting van infrastruktuur en
dienslewering kan so gou as binne-in 36 maande van vandag af gebeur.