Die derde Vrystaat- ope wedvlugbyeenkoms tussen verskeie rollerduifklubs in die Vrystaat het op 17 en 24 September plaasgevind.
Morné Joubert van die Welkom-klub sê die kompetisie is in die Covid 19-pandemie ingestel toe provinsiale grense nie oorsteek kon word nie.
“Hierna het dit ’n jaarlikse instelling geword waar Birmingham-rollerduiweboere kon kragte meet met wie die beste span rollerduiwe gehad het, in die lug,” sê Joubert.
Die Vrystaatse ope het op Sondag 17 September in Sasolburg begin, met vier deelnemers wat lede is van die Gold Reef Birmingham-rollerduifklub (GRBRC).
Met die einde van die kompetisie vir dag een, het Willie van der Merwe voorgeloop met 169.89 punte.
Op Sondag 24 September het die tweede been in Wekom begin, waar drie lede van die North Free State-rollerduifklub (NFSRC), deelgeneem het.
Joubert sê die Welkom ronde was beslis spesiaal, en twee eêreldbekerkampioene, Heine Bijker (al vyf keer kampioen, van Nederland) en Austin Fox (een keer kampioen, van Ierland) het hulle kennis met die Welkomiete kom deel.
Nadat die manne van Welkom klaar kragte gemeet het, is daar vertrek na Bloemfontein, waar twee lede van die Bloemfontein Birmingham-rollerduifklub (BBRC) deelgeneem het.
Die drie topdeelnemers in die Vrystaatse ope was Willie van der Merwe van die GRBRC (eerste), Dale Coleridge van die BBRC (tweede) en Leon Laubscher van die BBRC (derde).