Die ontdekking van meer as 70 verwaarloosde wilde diere, insluitende boskobras, groenmambas en ’n uitheemse koperslang in hokke in ’n huis in Hennenman word as “erger as nige gru-film” beskryf.
Die tonele waarop die Dierebeskermingsvereniging (DBV) in Marius Joubert se huis afgekom het, wat dood is nadat hy doelbewus sy hande in twee hokke met giftige slange gedruk het, is so deur geharde DBV-inspekteurs beskryf.
Reinet Meyer, senior inspekteur van die DBV in Bloemfontein, sê dit was “erger as ’n horror-fliek.”
Joubert het net voor Paasnaweek sy eie lewe geneem toe hy sy hande in twee verskillende slanghokke gedruk en die giftige slange hom gepik het.
Daar was boskobras, groenmambas en ’n uitheemse koperslang in die hokke, berig Rapport.
Joubert moes Vrydag in die landdroshof op Hennenman verskyn het op aanklagte van huisbraak en diefstal.
Dié misdade is glo in Julie verlede jaar gepleeg.
Kapt. Stephen Thakeng, polisiewoordvoerder in die Vrystaat, sê gedurende sy aanhouding in die polisieselle op hierdie aanklagte het Joubert die ondersoekbeampte laat weet daar is nóg gesteelde goedere in sy huis.
Joubert het aangebied om die polisie te wys waar hierdie gesteelde goedere is.
Die polisie het toe sy voete en hande geboei en hom na sy huis geneem, waar sy hande losgemaak is sodat hy die goedere kon uitwys.
Hy het egter sy hande onverwags in die slanghokke gedruk en is deur die slange gepik. Hy het mediese hulp geweier en is later in die Bongani-hospitaal in Welkom dood.
Ná sy dood is die DBV van Bloemfontein na die toneel ontbied, waar hulle op meer as 70 diere afgekom het – die meeste van hulle eksotiese diere waarvoor ’n mens permitte nodig het.
“Baie van die diere het aan voedselgebrek en dehidrasie gely, terwyl ’n hele paar reeds dood was,” sê Meyer.
Net meer as 60 diere was nog lewend, waarvan die meeste uiters giftige slange was.
“Die diere is in ’n gesamentlike poging van die DBV’s in Virginia en Bloemfontein, asook ’n wildlewe-hospitaal in Johannesburg, versigtig uit Joubert se huis verwyder, ondersoek en behandel.”
Werner Botha, ook ’n inspekteur van die DBV, sê baie van die reptiele ly aan ’n metaboliese beensiekte omdat hulle in klein hokke aangehou is.
Meyer sê reptiele is baie moeilik om aan te hou.
“Daar is baie spesifieke en streng reëls rakende die omstandighede waaronder hierdie diere aangehou mag word.”
Sy sê die diere word steeds behandel en hulle hoop om hulle binnekort weer in ’n natuurlike habitat vry te laat.
Meyer sê dit is vir haar betreurenswaardig dat Joubert dood is omdat sy hom graag in die hof sou wou sien op aanklagte van dieremishandeling.