Luidens die uitslae wat op 13 Junie ontvang is, is daar geen tekens van cholera in die water nie. Die slegte nuus is egter dat daar positiewe tekens van E.coli en fekale kolivorme gevind is wat beteken dat daar riool in die rivier is wat ander siektes as cholera kan veroorsaak.Foto: Afriforum


Die AfriForum-tak in Bothaville het op Donderdag 8 Junie ’n watertoets gedoen om vas te stel of daar cholera in die Valsrivier is. Daar is op een kol ’n monster geneem om by ’n geakkrediteerde laboratorium getoets te word.

“Luidens die resultate wat op 13 Junie ontvang is, is daar geen tekens van cholera in die water nie. Die slegte nuus is egter dat daar positiewe tekens van E.coli en fekale kolivorme gevind is wat beteken dat daar tekens van riool in die rivier is wat ander siektes as cholera kan veroorsaak,” sê Alta Pretorius, AfriForum se distrikskoördineerder vir Mooirivier.

Pretorius sê hulle maan inwoners van Bothaville om nie water uit die rivier te gebruik nie en as dit noodsaaklik is, moet die water eers gekook word. Inwoners moet ook nie in die water swem nie.

“Dit is ook raadsaam om diere van die rivier en spruite af weg te hou.”

Die plaaslike AfriForum-tak sal die probleem met die Nala-munisipaliteit bespreek sodra ’n afspraak met hulle gemaak is.

“Die swak bestuur en onbevoegdheid van munisipaliteite is nou vinnig besig om hulle in te haal. Dit is egter hartverskeurend dat ons waterbronne, waarsonder nie mens óf dier kan klaarkom nie, in die proses beskadig word,” sê Pretorius.

You need to be Logged In to leave a comment.