Die gesin van ’n man van Welkom wat onlangs oorlede is, moes meer as R10 000 uit eie sak betaal om die Welkomse begraafplaas toeganklik te maak.
Piet Harmse is op Vrydag 18 Maart in die ouderdom van 97 oorlede. Dit was sy laaste wens om by sy vrou, Hester, begrawe te word. Sy is in 1995 oorlede. Haar graf is spesiaal voorberei sodat hy bo-op haar ter ruste gelê kan word.
Gesinslede was verlede week erg geskok met hul eerste besoek aan die begraafplaas. Stukkende grafte, geskende grafstene, lang gras, die muur van herinnering wat nie meer bestaan nie, die nissies wat oopgebreek is en die oorledenes se as wat orals gestrooi is, beeste wat op die grafte wei en verwoesting was aan die orde van die dag.
“ ’n Lid van ons familie se grafsteen is skoonveld,” sê Jan Harmse, Piet se seun, wat al 56 jaar in Welkom woon.
Hy het die familie bymekaargeroep en hulle het ingespring om die blok om hul pa se graf skoon te maak.
“Ons het Saterdag (19/03) en Sondag elke dag 13 uur lank onverpoos gewerk om alles skoon te kry.
“My span het bestaan uit my sussies en ons gades: Susan, Hendrieka, Madelein, Phillip, Jaco, Jatienne en Amanda. Ook ons huispersoneel en stukwerkers het hard gewerk om ons pa se droom te verwesenlik.”
Jan sê daar was ook emosionele tonele tydens die skoonmaakproses.
’n Baie ou man het hulle genader.
“Hy het ons vertel dat hy al lank sy ouers se grafte soek, maar die lang gras en die slegte toestande wat in die begraafplaas heers, maak dit vir hom onmoontlik om die grafte te kry.
“Soos wat ons gepraat het terwyl ons skoonmaak, het ons op sy ouers se grafte afgekom. Hy was so dankbaar hy het net daar op sy knieë gesak en begin huil. Ons het almal saam gehuil.”
Hy vertel ook oor hoe hulle op die vermoorde Michael van Eck se graf afgekom het.
“Dit was ook ’n baie emosionele oomblik. Ons kon dít ook mooi skoonmaak,” sê Harmse.
Valerie Watts, een van Jan se susters, het in 1998 uit Welkom verhuis.
“Ek het 45 jaar in Welkom gewoon, maar die toestaande hier is nou skokkend,” sê sy.
Piet is Vrydag (25/03) vanuit die Avbob-kapel in Welkom begrawe.
“In ons tyd van rou kon ons baie mense se herinneringe weer oopmaak,” sê Jan.
- Vistaword daagliks oorval met klagtes van woedende inwoners wat nie meer die grafte van hul geliefdes kan besoek nie.
Buiten die hoë gras en onrybare paaie is dit ’n gevaarlike gebied vir vrouens en bejaardes om te besoek.
Die Joodse kapel is verwyder nadat dit heeltemal geplunder is en die kinderbegraafplaas is verwaarloos en oorgroei. Die netjiese Welkom-begraafplaas van destyds bestaan lankal nie meer nie.
Een van ons eie familie se grafstene is skoonveld – Jan Harmse