Groot opgewondenheid heers oor die jaarlikse #Imagine-byeenkoms wat weer op Nampo-park buite Bothaville vir die sentrale streek aangebied sal word.
Jaarliks word twee groot byeenkomste gehou, en die sentrale streek se geleentheid word beplan vir van 21 tot 23 Maart.
Tieners van oor Suid-Afrika heen word genooi om die byeenkoms by te woon.
Die #Imagine-beweging het oorspronklik op 14 Februarie 2013 in Durbanville ontstaan. Die doel hiervan was hoofsaaklik om tieners blootstelling te gee aan die verskeidenheid jongmense wat die Here dien.
Verskeie groepsgesprekke, praatjies deur sprekers, aktiwiteite en werksessies word op so ’n saamtrek aangebied om tieners leiding te gee, asook om hulle toe te laat om in geloof te groei.
“ #Imagine volg in die voetspore van die Jeug-tot-Jeug-aksie van die sewentigerjare, sowel as die Jeugfeeste van die negentigerjare,” verduidelik ds. Christo Nel, koördineerder vir die sentrale streek.
“Tot dusver was #Imagine een van die grootste tienerfeeste wat landswyd aangebied is.”
Bywoning kos R650 per tiener. Mense wat kinders wil borg, kan Nel by 076-943-2006 bel.
Vir meer inligting oor die saamtrek, of oor wat die beweging in die algemeen behels, besoek die webwerf imaginemovement.co.za.
– Madli Grobbelaar