Die afgelope paar weke is die gemoed van duisende Suid Afrikaners getoets, gebreek, of somer heeltemal verniel.
As dit nie ernstige vloedwaters was wat ons omsingel nie, is dit veldbrande wat verslind en alles verskroei wat in sig is.
Soos enige goeie Christen, is ons uitgangspunt om in ’n gelukkige en etiese lewe saam met God, ons medemens en die skepping te leef, maar hoe doen ons dit as die waters tot by ons keel kom? As die vuur alles om ons verslind en verskroei?
Die verhaal van Job, so gepas vir ons eie situasie vandag. ’n Man wat sy hele gesin verloor het, al sy mag, sy status, sy besittings. Hy is alleen, sy eggenoot wat saam met hom in die omstandighede sit daag hom uit “vervloek God en sterf…”
Job het alles verloor, selfs sy laaste stukkie ondersteuning en morele kompas is teen hom. Wat kan mens anders doen as om te sit in die as?
Job het iets besef wat baie van ons vandag ook moet raaksien. Die eerste woord vir ’n gelukkige en etiese lewe naby God – vertroue. Vertrou God!
Soek vir die Job wat diep in jou gemoed verborge lê; bevestig saam met hom: Die Here het gegee en die Here het geneem.
Mag die Naam van die Here geprys word! Ondanks dit alles het Job nie gesondig nie en aan God niks ongerymds toegeskryf nie.
- .