As ek aan die huwelik dink, dan is “SHMILY” vir seker die woord wat by my opkom.

Dit is ’n verhaal van twee wonderlike ou mense wat nog steeds in hul gevorderde lewensjare vir die huwelik sin gegee het.

Hulle het oral waar hulle beweeg, die woord weg gesteek vir mekaar. Selfs op snaakse plekke in die potjie suiker, op die laaste deel van die toilet papier geskryf en op papiertjies oral in die huis weggesteek.

Terwyl ek die verhaal gelees het, het ek gewonder wat die woord “SHMILY” beteken.

Die dag toe die paartjie se kleindogter hulle op die stoep kry, vra sy wat die geheime woord beteken.

Oupa het Ouma se hand styf vas gedruk en die woorde stadig gesê: “See How Much I Love You.”

Dit is die klein dingetjies in die lewe wat saak maak. Die groot geheim is die vriendskap tussen lewensmaats wat dit moontlik maak om vir mekaar te bly omgee, selfs in die krisis-oomblikke.

Elke huwelik het sy eie geheim. Omdat geloof ons diepste hart raak, het dit die moontlikheid om eenheid tussen man en vrou te bewerkstellig wat niks anders kan regkry nie.

Volg die SHMILY-driepuntplan om dit deel van die daaglikse roetine te maak:1. Begin by God – vra die Here om jou in die veiligheid van sy omvattende liefde toe te vou en te versorg totdat jy weer die “SHMILY” kan laat leef. Sien Ps 27:10, 1 Joh 4:7 en Jes 12:2.2. Bewonder jou maat – dink terug, onthou die mooi en beweeg saam. Lees Prediker 3, Joh 15:17, 2 Kor 6:13 en Jer 17:7.3. Taal – Die oomblik wat ons ’n saak kan benoem, is dit asof ons ’n beter greep daarop kry. Lees Joh 13:14, Matt 18:20 en Jakobus 1:19.

Huwelike nodig gebed.

Dierbare Vader, dankie vir die wonderlike gawe van die liefde. Ons wil graag hê ons woorde en ons dade moet “liefde” uitspel op persoonlike, kragtige en positiewe maniere. Wys ons om U saam–saam ’n gereelde deel van ons lewe te maak. Ons bid vir mekaar en dat ons liefde in alles raak gesien kan word.) Heidi McLaren is jeugleraar aan die NG kerk Bedelia.

You need to be Logged In to leave a comment.