Woensdag 9 Maart was gekenmerk deur chaos in die Welkomse middestad toe taxibestuurders met die SAPD en die Matjhabeng-verkeersafdeling gebots het. Ses taxibestuurders is in hegtenis geneem, en agt minibustaxis is geskut.
Die dag se geweld het vroegoggend begin toe ‘n 31-jarige taxibestuurder van die Oos-Kaap by Diesel Electric in Janhofmeyer Welkom omstreeks 03:30 aangekom en geparkeer het.
Hy was besig om ‘n passasier van Umthatha af te laai toe hy deur ‘n groep mans genader. is.
Hulle wou by hom weet hoe hoekom hy ‘n taxi bedryf terwyl daar ‘n taxistaking is.
Hy het geantwoord dat hy nie bewus van die staking was nie. Hy is toe met vuiste aangerand, met ‘n skerp instrument op sy hand gesteek, en van R10 000 kontant beroof. Die mans het ook twee selfone gevat en hy s van sy bankkaarte beroof. Die waarde van die gesteelde items beloop R11 000.
Ook vroegoggend omstreek 03:25 is ‘n kwaadwillige saakbeskadiging geregistreer nadat die ruit van ‘n wit Mercedes Benz Megabus in Lantanastraat in Reitzpark Welkom beskadig is. Die waarde van die venster is R2000. Dit is deur ‘n groep taxibestuurders wat langs die pad geparkeer was, beskadig.
Omstreeks 09:30 moes skokgranate en rubberkoeëls gebruik word toe taxibestuurders paaie in Matjhabeng versper het en polisiebeamptes met klippe bestook het.
Kapt, Stephen Thakeng, mediaskakelbeampte vir die Lejweleputswa SAPD, sê hulle is versoek om nie die pad toe te maak nie. Hy sê ’n Saak van Openbare Geweld is geregistreer en dié ondersoek duur voort,
Om 13:30 het sowat 50 taxibestuurders die pad in Bokstraat versper en gekla dat verkeersbeamptes hulle teister. Hulle het ook gekla oor die slegte toestande van die paaie in Mtjhabeng. Tydens dié konfrontasie is die pad versper. Die polisie het hulle gemaan om hul voertuie uit die pad te verwyder en hulle het geweier Die taxibestuurders het die polisie omsingel en wou hulle oorrompel. Skokgranate en rubberkoeëls moes gebruik word om die skare uiteen te jaag.
In ‘n ander voorval vroër die dag by die Goldfields Mall, is ‘n 4+1-taxibestuurder aangeval en van kontant beroof. Dié voorval word ondersoek, sê Thakeng.
Ses taxibestuurders is Dinsdag in hegtenis geneem vir die belemmering van die vrye vloei van verkeer ingevolge die padverkeerswet en openbare geweld.
Wetstoepassers betrokke by die inhegtenisnemings was van Welkom Openare Polisiëring-taakspan, Welkom Sigbare Polisiëring, Verkeerspolisie, Matjhabeng en Provinsiale Verkeersdepartement.
Die verdagtes sal binnekort in die Welkom-landdroshof verskyn.
’n Groot wetstoepassingaksie is rondom Matjhabeng ontplooi om te verseker dat wet en orde gehandhaaf word.
Die situasie word gemonitor, sê Thakeng.